Pedri van der Westhuizen – Mooi oomblikke en Nou  

Die sanger van Centurion Pedri van der Westhuizen jubel die lente binne met twee splinternuwe enkelsnitte Mooi oomblikke en Nou.

Die millenniër het die musiekmark behoorlik in Januarie vanjaar binnegerock met sy eerste enkelsnit, Deel van die lewe. Dié snit is baie goed deur plaaslike radiostasies ontvang en musiekkenners was behoorlik op hol met sy  gemaklike wêreldbeskouing en ook die manier waarop die lirieke dit weerspieël.

Pedri was nog altyd daarvoor bekend dat hy musiekgenres uitdaag en ’n musikale waaghals is. Dit kan ook duidelik in sy twee jongste enkelsnitte gehoor word; Mooi oomblikke het ’n regte rock-lounge gevoel. ’n Mens kan jouself verbeel dat jy by ’n skemerkelkierestaurant in Kampusbaai sit en die musiek net oor jou laat spoel.

Nou, daarteenoor, het meer ’n pop-rockgedrewe aanslag, maar hy wyk nie af van sy sterk liriekgedrewe lewensfilosofie nie.

Pedri, wat beide snitte neergepen het, openbaar ongegronde diepte wanneer hy filosofeer oor die geheime van die lewe en die nou – van die oomblik, om te lewe en om lief te hê.

Mooi oomblikke  is ook ’n amper-ode aan die argitipiese ouers en  grootouers en hoe hul lewensbeskouings ook sy eie lewe (dit kan ook op die luisteraar se lewe van toepassing gemaak word) beïnvloed en verander het.

Pedri beskyf die liedjie as “’n snit wat jou terug gaan neem na spesifieke tye in jou lewe”.

“Die snit beskryf jou hartsmense – jou pa, jou ma, jou ouma, jou oupa, ’n vriend, dáárdie mense wat jy koester. Dit gaan oor oomblikke wat jy saam met jou hartsmense gehad het en nog gaan hê.”

Pedri het met dié snit die geheim van die lewe ontdek: Dit is dat die lewe eintlik vreeslik eenvoudig is. “Ons kompliseer dinge onnodig,” vertel hy. “Dus, wees lief vir jou hartsmense, want hulle kan deel word van mooi herinneringe en oomblikke.”  

“Die mooi oomblikke wat jy saam so ‘n hartsmens gehad het en nog het. Koester elke oomblik. Die lewe is eintlik so eenvoudig maar soms kan dinge (die lewe) geweldig kompliseer. Wees lief vir die mense in jou lewe, want dit bring net soveel meer mooi oomblikke.”

Nou volg bykans dieselfde liriekroete as Mooi oomblikke. Die lirieke beskryf ook die verskillende tye in jou lewe; jou jeug,  die ouderdom wat nie vir enigiemand wag  nie. Nou moet mense inspireer om te droom en te leef en nie te wag tot dit dalk te laat is nie. “Ons  almal het drome,  maar ons stel dit partykeer tot dáárdie eendag…

“Ons dink dikwels dat ons dalk te groot droom en daarom niks daaraan doen nie,” glo Pedri. “Ons lewe egter net een keer en daarom moet ons ook ’n verskil in ons wêreld maak. Dit maak nie saak of dit klein of groot is nie.’”  

Pedri is in Pretoria gebore en het ook in die Jakarandastad grootgeword. “Ek is baie lief vir die buitelewe en vlug dikwels na ons plasie net buite die stad as die liggies, geraas en verkeer té veel raak.”

 Hy het aan die Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria gematrikuleer en het sy musiekstudies aan onderskeidelik Unisa, Rock School en  SAMRI (South African Music Industry) voltooi.  Hy het verlede jaar vir ’n BA-graad in teologie ingeskryf en put inspirasie vir sy lirieke uit sy studies.

Die aanslag van die twee enkelsnitte Mooi oomblikke en Nou  is vars en nuut en ’n goeie aanduiding van wat ons nog van Pedri kan verwag. Sy benadering tot sy eie musiekloopbaan is heeltemal onkonvensioneel.

Mooi oomblikke en Nou is beide tegnies en musikaal baie goed versorg en is deur Josh Oosthuizen vervaardig en opgeneem.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *