CHRISTIAAN BAARTMAN LEER OM AAN TE BEWEEG WANNEER ’N VERHOUDING VERBROKKEL IN NUUTSTE ENKELSNIT

Dit is nie altyd maklik om te aanvaar en te laat gaan wanneer ’n verhouding nie uitwerk nie. Tóg is dit nodig vir jou eie beswil, sodat jy kan aangaan met jou lewe. Dít is die kragtige boodskap wat Christiaan Baartman graag met sy nuutste enkelsnit aan luisteraars wil oordra.

AS HY VIR JOU NOG LIEF WAS is ’n folk-popliedjie uit sy eie pen en ateljee, wat lekker val op die oor en sal aanklank vind by enigiemand wat al ’n liefdesteleurstelling moes verwerk.

“In die verlede het ek altyd gesukkel om te laat gaan wanneer ’n verhouding nie uitwerk nie. Toe begin ek sien dat daar baie mense is wat met dieselfde probleem worstel – veral wanneer die ander persoon in die verhouding net nie meer moeite doen nie,” verduidelik die Huisgenoot Tempo- en Ghoema-bekroonde musikant oor die inspirasie agter die lirieke. “Dit het my laat besef dat hoe langer jy vat om aan te beweeg, hoe langer gaan dit vat om jou perfekte pasmaat te vind.”

Hierdie pragtige lied is die sanger se dertiende enkelsnit in drie jaar en volg in die voetspore van nommer-een-treffers soos Net ’n Bietjie, Stof, ’n Vriend Soos Jy (’n lekkerluister-duet saam met Mack Rapapali), My Vrou en Die Beste Deel.

Tans werk dié sanger en liedjieskrywer juis weer saam met Mack aan sy nuutste enkelsnit, wat die fokus gaan plaas op die nie-winsgewende organisasie, Step by Step. Verder is hy ook besig om sielkunde te studeer en nuwe musiek te skryf, en beplan hy om nog ten minste twee enkelsnitte uit te bring later vanjaar. 

Christiaan is al byna vir twee dekades in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2008 uitgereik. Oor die jare, het hy baie hoogtepunte bereik waaronder verskeie musiektoekennings, ’n kinderalbum saam met Leon Jonkman; om die finale rondte te bereik op Idols SA in 2006; om vir Smokie te open in 2012; sy optrede by Huisgenoot Skouspel in 2007; en vele meer.

AS HY VIR JOU NOG LIEF WAS is ’n opgewekte liedjie, met ’n positiewe boodskap, wat kenmerkend is van Christiaan se styl en uitkyk op die lewe. “Ons beweeg weer in ’n seisoen waarin ons mag optredes doen en ek maak die beste daarvan. Daar is besonders baie om op te vang na die pandemie, so nou is dit tyd om hard te werk en te spaar,” sluit hy af.

Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/christiaankrit/   
Instagram: @christiaanbaartman
YouTube: https://www.youtube.com/user/ChristiaanRock/featured?view_as=subscriber  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *