Dié snit Hungry Eyes neem jou op ’n mallemeulerit na die verlede; die tagtigerjare waar Patrick Swayze en Jennifer Grey hul smeulende debuut in die rolprent Dirty Dancing gemaak het.
Maar na dekades is die snit nog net so universeel; net so stomend en steeds ’n gunsteling op die dansvloer. En ’n mens kan sommer ook nie help om te swymel as jou geliefde jou in sy arms neem, diep in die oë kyk en sing: “With these hungry eyes. One look at you and I can’t disguise. I’ve got hungry eyes I feel the magic between you and I.”
Nou het die Afrikaanse sanger Henri Alant die snit, wat oorspronklik deur Eric Carmen geskryf en gesing is, hermeng en “nuwe lewe daaraan gegee wat lekker op die oor van die Suid-Afrikaanse gehore sal val.”
Henri, wat vroeër vanjaar die klankgolwe laat tril het met sy enkelsnit, My vir ewig, sê dat hy maar vier jaar oud was (nou gee ons sy ouderdom weg) toe hy die eerste keer die liedjie oor die radio gehoor het. Hy was toe nog te jonk om na die rolprent te kyk, maar die liedjie het iewers in sy geheue vasgesteek. Hy het dit gesing, onthou, en daarom ook besluit om sy unieke weergawe van die snit met gehore te deel. “Dit is nog altyd een van my gunsteling liedjies en ek het nie nodig gehad om die woorde te leer voordat ek die opname gedoen het nie,” grinnik hy. “Hungry Eyes is meer as net ’n liefdesliedjie, dit praat met ’n mens. Dit vergesel jou waarna toe jy ook al op pad is.”
Henri het voorheen duette saam met bekende sanger soos Rinel Day, Jennifer Zamudio en Stephan Visagie opgeneem, maar Henri is ’n kunstenaar in eie reg en sy stem is perfek geposisioneer om gemak tussen die verskillende C-note te beweeg. Dit is waarom sy stem ook pasknapperfek vir Hungry Eyes is.
Henri het sowat veertien jaar gelede sy debuut in die musiekbedryf met die album Cupid gemaak. Die album het op radiostasies se toptrefferlyste geboer en het bykans 10 000 eenhede verkoop. Hy is ook vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning as beste nuweling genomineer.
Henri sê dat hy die snit aan Eric opdra wat in Maart vanjaar in die ouderdom van 74 oorlede is. “Dit is ook my manier om hulde aan hom te bring al het ek nooit die voorreg gehad om hom te ontmoet nie.”
Hungry Ees is ’n radiovriendelike popliedjie waarby die jonger en ouer generasie sal aanklank vind.