“Dit maak nie saak hoe jy jou alleenheid beskou nie; dit kan ’n grootse gevoel wees wat dreig om jou te vernietig, of net ’n kleiner hartsgevoel van verlies en alleenheid, maar eintlik is jy nooit, ooit alleen nie. Ons skepper plant drukkies op onverwagte plekke.”
Só vertel die mooi donkerkopsangeres van Gauteng, Lee Luka, oor haar jongste enkelsnit, Nooit ooit alleen, wat pas op radiostasies landswyd uitgereik is.
Alleenheid is ’n onderwerp wat selde bespreek word, miskien is dit omdat dit half ’n verbode woord is; ons wil net nie erken dat ons almal soms ’n gevoel van alleenheid ervaar nie.
Dit is ook presies waarom Lee besluit het om ’n liedjie oor alleenheid te skryf. “Alleen wees is nie altyd ’n slegte ding nie, maar as dit ’n gevoel van eensaamheid word, is dit ’n uitdaging wat aangepak moet word,” sê sy.
Lee het al sestien jaar gelede naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf begin maak, maar nadat sy die geleentheid gekry het om haar vlerke internasionaal te sprei, het sy ’n bietjie uit die plaaslike oog verdwyn. Maar sy het haar pad na Dubaise verhoë oopgesing en die internasionale media het groot verwagtinge vir haar gehad.
Haar liedjies het ook op Belgiese radiostasies se toptrefferparades geboer.
“Nadat ek teruggekeer het na Suid-Afrika het ek agter die skerms gewerk; ek het onder meer skoolkore afgerig en het ook sanglesse gegee.”
Haar sangskool het ’n baie spesiale plek in haar hart en sy is steeds besig om “die land se nuwe kunstenaars op te lei.”
“My sabbatsjare het my goed gedoen,” sê sy, “ek het meer tyd gehad om op my gesin te fokus.”
Nou het sy besluit om haar groot terugkeer in die Afrikaanse musiekbedryf te maak en met Nooit ooit alleen bewys sy ook dat sy met die bestes in die musiekbedryf kan meeding.
Lee, wie se stem so tussen die die laer A-en middel C-note resoneer, is al langer as drie dekades besig met musiekdinge.
Sy het reeds op elfjarige ouderdom besef dat die verhoog vir haar beskore is. Na haar eerste optrede het sy “letterlik verslaaf geraak aan die euforie van ’n applous.”
Lee vertel dat dié snit uit ander se eensaamheid gebore is. “Die pandemie en die gevolglike inperking het baie mense laat vereensaam. Ons begin nou stadig maar seker uit ’n tyd van eensaamheid beweeg, maar dit is ’n grootse eensaamheid wat baie mense wil vergeet. Sommige baklei steeds daarteen.”
“Dit is ook die boodskap wat die liedjie wil oordra; dat ons vertroosting op enige plek kan vind, dit is orals rondom ons.”
Nooit ooit alleen beweeg so tussen pop en country-rock, maar dit is veral die rock-klanke wat dié liedjie soos ’n gebalde vuis in jou maag laat ontplof.
Die snit is nie in die ware sin van die woord ’n ballade nie, maar raak belangrike onderwerpe aan en bied ook vertroosting dat ons nooit alleen is nie. Die lirieke is ook pasknapperfek vir haar stem. Die lirieke is kontrasterend; dit wissel tussen erns en speelsheid, maar Lee slaag daarin om dit baie oortuigend aan die luisteraar oor te dra.
Lee het ’n lekker sin vir humor en ’n positiewe ingesteldheid teenoor die lewe. Sy glo dat “om baie balle in die lug te hou ook soms ’n kuns op sy eie is.”
Die liedjie is deur Kelber Produksies vervaardig en verwerk.
Nooit ooit alleen is pure luistergenot en ons hoop dat Lee nog baie liedjies gaan neerpen.