Vandiét / Son

“Son, gee my ’n straal van hoop oor dit wat my hart begeer, ek wil skree, blywend skree oor jou.  Jy kom op en skyn oor my, ek dans, sing en lag ek’s bly jy kom lig, lig die pad wat jy lei…’’

Só sing die sangeres van George in die Wes-Kaap, Vandiét, in haar jongste enkelsnit Son waarmee sy die liefde as ’n gloeiende vuurwarm bal beskryf.

Dit is ’n rock-popgedrewe volwasse kontemporêre snit waar Vandiét, wat ook ’n meesterliriekskrywer is, die son as ’n metafoor vir die liefde inspan. Dié enkelsnit slaag omdat Vandiét nie net ’n wonderlike cherrie-likeurstem het nie, maar ook haar lirieke stroop van die Hallmark-tipe versiersuiker waarin baie liriekskrywers soms trap.

Maar dit is ook meer as net ’n liefdesballade; dié snit kan ook beskou word as “daardie oomblikke wanneer die nag op sy heel donkerste is, net voor die son sy kop uitsteek,” vertel Vandét wat ook onlangs die ma van ’n seuntjie geword het.

“Dit is waaroor Son ook handel. Die dag breek, die son het ook vir my opgekom, my deurbraak.”

Vandiét, wat eers gedurende die grendeltydperk met haar enkelsnitte  Waar ek leer en Vergewe, tot die Afrikaanse musiekmark toegetree het, het ook in Januarie die goeie nuus ontvang dat sy vir ’n Afri-Indie-toekenning genomineer is in die kategorie beste volwasse kontemporêre sangeres.

In ’n mate is Son dus ook vir haar simbolies, want haar grootste begeerte is om haar musiek “met duisende aanhangers te deel en op wêreldverhoë te sing.”

Elkeen van haar liedjies het vir haar ’n spesiale boodskap, maar sy het spesifiek ook die snit vir haar man van die afgelope vier jaar geskryf.  ‘’My grootste begeerte was nog altyd om te trou en ’n mamma te word. Ek dink waarom ek en my man so goed oor die wegkom is die feit dat ons dieselfde dinge uit die huwelik wou hê; ’n opregte verbintenis, die sekuriteit van liefde, ondersteuning en ’n gesin.”

Haar snitte is geestelik geïnspireer, maar sy beskou haarself nie as ’n gospelsangeres nie. “In my gelowige siening is God die een wat die deurbraak gee. In my storie is dit die dag toe my man in my lewe ingekom het, toe val alles in plek.  My man simboliseer dus ook die son.”

Haar jongste seuntjie, Luhan, is nou vier maande oud en Michiel is amper drie. Sy sê moederskap het haar die ware betekenis van geduld geleer. “Met die tweede kind is dit altyd baie makliker, maar ek moet bieg ek bid nog elke dag vir geduld.“   

Vandiét, wie se naam Want U het gegee beteken, het ook al haar debuut as aktrise gemaak en het rolle in  Koringberg, Sielspieël en verskeie kortfilms en verhoogstukke vertolk. Vir haar rol in Sielspieël is sy vereer as die beste vroulike aktrise in ’n hoofrol by die Horror Festival in Kaapstad.  “Ek hou van toneelspel, maar musiek was nog altyd my grootste droom.”

Sy weet nie waar haar musiekloopbaan heen op pad is nie, maar sy sê sy het uiteindelik daardie punt in haar lewe bereik waar sy net elke dag geniet en elke oomblik met oorgawe geniet. “Ek maak die beste van geleenthede. My motto is nie verniet ‘vat dit soos dit kom nie.’

Vandiét is dalk die jongste toevoeging tot die musiekbedryf, maar sy het ’n stem wat ’n mens nie maklik kan vergeet nie. Sy het al vir haar ’n stewige ondersteuningsbasis opgebou en met Son gaan sy beslis weer ’n  paar nuwe musiekharte verower.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *