Elzabi Buek – Blou Oog Dromer

Die talentvolle sangeres , Elzabi Buek, wil luisteraars, oud en jonk laat saambeweeg met haar nuwe enkelsnit ‘Blou Oog Dromer’. Met hierdie dans snit, uit haar en Megan Snyman se pen, is hulle gereed om haar sesde enkelsnit met bewonderaars te deel.

Die snit ‘Blou Oog Dromer’ gaan oor ‘n hartsvriend se ysblou oë wat haar onverwags in ‘n oomblik vasvang en sy raak ietwat verlief op hom.

“Ons het gereeld voor en na die kerk se jeug saam gery. Ons het meer en meer hartsake met mekaar gedeel, en eendag toe hy weer met sy blou oë na my kyk, toe raak ek bietjie verlief. Maar al wat ek kon doen is droom van sy mooi blou oë.”

Elzabi is al vir twee-en-twintig jaar aktief in die musiekbedryf betrokke en het haar liefde vir musiek by haar ma gekry, wat konstant in hulle huis musiek gespeel het terwyl sy saam gesing het. Sy het op driejarige ouderdom begin sing, waarna haar ouers haar op die tafel getel het en ʼn geldjie betaal het om hulle te vermaak.

“Ek het as kind begin om musiek op gehoor te speel en niemand wou vir my klasgee nie, want ek kon nie note lees nie,” sê sy oor haar natuurlike aanvoeling vir musiek. “Ek het net eenmaal ʼn stuk gehoor en dan het ek dit gespeel sonder bladmusiek.”

Op hoërskool het dié veelsydige vrou musiek as vak geneem, waar sy toe genoodsaak is om te leer note lees. Later het sy ook haar eie musiek begin skryf en toonset. Vandag speel sy klavier, klawerbord, kerkorrel, kitaar en ʼn bietjie panfluit.

In haar loopbaan het sy nie ‘n tekort aan hoogtepunte ervaar nie. Bo-aan haar lys is ‘n uitnodiging om as  ʼn vroulike kunstenaar by die Mighty Men-konferensies te sing. “Om so baie mans te hoor ‘Amen’ skree en te sien hoe hulle die Here loof en prys, was ʼn belewenis soos min ander,” vertel sy oor haar ervaring.

Dié passievolle sanger en liedjieskrywer put haar inspirasie uit gebeurtenisse, lewenslesse en boodskappe wat sy wil uitdra aan haar gehoor. Sy skryf net as sy gelukkig is, want sy wil nie haar hart verklap in seer tye nie.

Daar is baie kunstenaars saam met wie die sangeres graag eendag wil werk en sy sê: “Omdat ek van ʼn groot verskeidenheid musiek hou, sal ek graag saam met Tarryn Lamb, Dirk van der Westhuizen, Juanita du Plessis en Rudi Claase wil werk.”

As daar een ding is wat die industrie deur die jare vir Elzabi Buek geleer het, is dit dat niks tot stand kom sonder harde werk nie. Tans is sy besig met ʼn nuwe enkelsnit, maar op die oomblik  wil sy mense laat dans met die lekker ‘upbeat’ popsnit, “Blou Oog Dromer”.

Die enkelsnit is nou beskikbaar op Apple Music, iTunes, Spotify, YouTube, Deezer, Amazon Music en meer.

Laai dit gerus hier af: https://dnamusiek.ampl.ink/BlouOogDromerEB

VOLG ELZABI OP:

Facebook – https://www.facebook.com/elzabi.artist/

YouTube – https://www.youtube.com/@elzabibuek5819

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *