DIAN VAN DER BERG, WENNER VAN DIE HERLAAI PRETORIA TALENTSOEKTOG

Dian van der Berg, 22-jarige deelnemer aan die Herlaai 2022 talentsoektogkompetisie, is onlangs aangewys as wenner van die Pretoria kompetisie.

Hy was ’n leerder aan Laerskool Fairland, was in Afrikaanse Hoër Seunskool tot en met Graad 9 en het aan Abbotts College Centurion gematrikuleer.  Dian vertel dat hy sy eerste kitaar op die ouderdom van nege met sy verjaarsdaggeld gekoop het. Op 12-jarige ouderdom het hy in die kerk begin kitaar speel en sing. 

In sy vroeë tienerjare het hy gedink dit is cooler om in Engels as Afrikaans te sing en sy musiek het dus dieselfde neiging gevolg. ’n Paar jaar later het Spoegwolf se musiek hom ‘n totaal nuwe uitkyk op Afrikaans en Afrikaanse musiek gegee. Hy het sy eie liedjies in Afrikaans begin skryf. 

In 2019 het hy klankingenieurswese aan die EMENDY Multimedia Institute begin studeer en in 2020 begin hy by klein restaurante/kroeë asook korporatiewe geleenthede optree. In Maart 2022 skryf hy en ’n  vriendin ’n duet vir die Herlaai-kompetisie in en word afgekeur aangesien duete nie toegelaat is nie. Dian het toe ’n solo-item ingeskryf en tot die finale rondte deurgedring. Die konsert het op 7 Mei in Pretoria plaasgevind.

Dian sou die geleentheid kry om saam met Spoegwolf te repeteer om te sien of hy die pyp kon rook om tydens die vertoning saam met hulle op te tree. ’n Uur voordat Spoegwolf sou optree, is Dian egter eers ingelig dat hy saam met sy helde kon optree – sonder enige voorafgaande repetisies. Dian en Danie het agter die verhoog ontmoet, waar hul moes besluit watter liedjie hulle sou sing. Spoegwolf se treffer, Bittermaan, is toe vir die groot oomblik gekies. Hy beskryf die ervaring as ’n onvergeetlike oomblik waarop hy sy loopbaan as musikant en kunstenaar wil voortbou. 

As wenner van die Herlaai-kompetisie in Pretoria, kry Dian die geleentheid om as ambassadeur vir die Herlaai-konserte op te tree. Entertainment & Event Factory, het Dian nou onder hul vlerk geneem met die doel om sy talent landswyd te deel.

Sy eie komposisies sal binnekort professioneel opgeneem en vrygestel word.

Dian is ook nou beskikbaar vir optredes en sy repertoire sluit liedjies van onder andere Spoegwolf, Bruce Springsteen, Kings Of Leon, Simon & Garfunkel, Matthew Mole, Jeremy Loops en George Ezra in.

Vir navrae en besprekings, kontak Mione by mione@eefactory.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *