Lydia Winchester sit ’n skop in jou aandsnapsie

Galore SA/ May 16, 2022/ ALCOHOL BEVERAGES, LATEST NEWS/ 0 comments

Een van die nuwe klassieke stemme in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, David Divaad, en sy broer Charl van der Merwe, het onlangs hulle nuutste mango-gegeurde jenewer, wat deur die alombekende skakelbeampte Lydia Winchester geïnspireer is, aan die plaaslike snapsiemark bekendgestel.

Die knal oranje Sunstone Gin verpersoonlik alles wat Lydia is; oranje vir haar borrelgompersoonlikheid en die veselagtige sappige mango wat maklik Lydia se gevrugte alterego kon wees.

“Ek is mal oor mango’s,” grinnik Lydia. “Ek gebruik ook baie keer die vrugte in een van my geregte.”

Dié twee broers, het net voordat die Covid-19 pandemie die wêreld in ’n wurggreep beetgekry het, Black Crow gestig.

Die streng inperking het menige mense na die pynappel- en aartappelskille laat gryp, maar die broers het besluit dat jenewer gaan stook en kort voor lank het twaalf verskillende geure op die rakke van drankwinkels landswyd gepryk. 

David vertel dat die idee rondom Sunstone Gin op Lydia se kuierstoep gebore is. “Ek en my broer het tydens een van ons besoeke aan Lydia, gesien (en geruik) hoe sy een van haar spoggeregte aanmekaar slaan.”

“Ons het onsself ook verluister aan die manier waarop sy die resep aan ons verduidelik het. Die hoofbestanddeel van dié gereg was mango’s. Ons het ook later uitgevind dat oranje haar gunsteling kleur is. Op pad terug na Limpopo het ons besluit om ’n jenewer, waarin ’n mens Lydia se persoonlikheid kan proe, te ontwikkel.”

In tipiese Lydia-styl het sy ook haar eie persoonlike handtekening Love Lyds agter op die bottel aangebring.  Die bottel en etiket is ook volgens Lydia se unieke eienskappe ontwikkel; die bottel is kort en slank (ongelukkig kon Lydia se netjiese paar bene nie op die bottel uitgebeeld word nie)  en die etiket skree sommer have you ever as jy daarna kyk. 

“Natuurlik, knipoog Lydia, loop musiek en jenewer ook hand-aan-hand. “Ek werk al ’n rukkie saam met David en daar is ’n sekere sinergie tussen ons. Ons werk lekker saam en beide van ons sien daarna uit om by die jenewerprojek betrokke te raak.”

Uitgelese gaste het in Maart vanjaar die voorreg gehad om die jenewer te proe en die reaksie was ’n gesmak van lippe en uitroepe wat ’n mens laat wonder het oor die skop in die snapsie….

Die Sunstone Gin is vanaf Mei aanlyn beskikbaar en kan ook by sekere drankwinkels gekoop word. Die jenewer kan by  www.crowbev.co.za bestel word.

Share this Post

Leave a Comment

Your email address will not be published.

*
*