Sy gunsteling suikersoetversnappering is sy ouma se koeksusters en dit is seker ook waarom die vermaakwebwerf Channel 24 na dié sanger en liriekskrywer Egmond se musiek as koeksuster-pop verwys het.
Hy is interessant en baie eksentriek, dié vermaakkunstenaar wie se lirieke soms so mals soos Salvador Dali se skilderye op die periferie van die luisteraar se droomwêreld dwaal.
Sy jongste enkelsnit, Pyn, wat hy saam met die Australiese sangeres Kaley opgeneem het, is ’n goeie voorbeeld van sy kuns; psigedeliese rock-pop met swaar elektroniese klanke gerugsteun deur lirieke wat aan die onderbewussyn bly torring. Dit is towerwoorde wat die luisteraar maar self moet interpreteer. Die pyn, waarna die titel van die liedjie ook verwys, kan fisiese of metaforiese pyn wees.
Hy sing: ’“Vat weg hierdie pyn, onverdiende pyn, ek reik uit na jou onsigbare muur, die pad vol selfverwyt, daar’s trane teen die ruit, my wonde pleit, die vloer is ongelyk, die spieëls begin te kraak, jou oë so vol wraak…“
Die snit is ook vanaf sy jongste album Sirkus Applous Encore (Deluxe) wat later die jaar as ’n deluxe weergawe uitgereik gaan word. Die album volg op Sirkus Applous Encoure wat baie goed deur plaaslike radiostasies en luisteraars ontvang is.
Egmond, wie se musiekloopbaan op ’n skoolverhoog in Bela-Bela in die Limpopo-provinsie begin het, verduidelik dat Pyn een van die beste snitte is wat hy al neerge-ink het. “Wat die snit so uniek maak, sê hy, is die feit dat die luisteraar self kan besluit waaroor dit handel. Kaley kan ook nie ’n woord Afrikaans praat of verstaan nie, maar sy het die klanke en woorde foneties geleer en ek dink haar bydrae (en natuurlik ook haar suiwer stem) maak van dié snit iets anders en heel besonders.“
Hy is baie goeie vriende met Sandy Robbie, voormalige lid van die popgroep Clout. Egmond vertel dat Sandy verantwoordelik was vir die musikale produksie van baie van sy albums en enkelsnitte. “Sandy het na Australië geëmigreer, maar ons maak nou musiek oor die twee kontinente. Sandy het my ook aan Kaley voorgestel en ons stemme smelt perfek saam.”
Egmond is al langer as twee dekades in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf betrokke en verskeie enkelsnitte en vollengte albums het al uit sy pen verskyn. Hoewel hy met Afrikaanse musiek groot geword het, erken hy dat hy aanvanklik net in Engels wou skryf en musiek maak, maar Afrikaanse woorde val net lekkerder op die tong as Engelse woorde, en hy het dieper in sy eie musikale talente begin delf.
Hy het sy eerste liedjie op 17-jarige ouderdom geskryf, maar het sy eerste snit eers in 2003 opgeneem. Hy skryf ook sy eie lirieke, “want woorde borrel soos ’n fontein uit my uit.”
Hy put sy musikale inspirasie uit stories met ’n sterk (of slim) einde. “Karakters wat sterker aan die einde van hulle reis is, laat my glo dat daar vir almal hoop is.’’
Pyn is ‘n radiovriendelike popliedjie wat by jonk en oud byval sal vind. Egmond se stem is baie veelsydig en soos hy met sy ander snitte bewys het, kan hy in enige genre sing.
Sandy het die snit opgeneem en vervaardig.