JUSTIN COETZEE STEL SY EERSTE ENKELSNIT VRY16 Januarie 2026

AAN MY SY, die talentvolle sanger Justin Coetzee se eerste enkelsnit, vertel die storie van iemand wat net liefde en aanvaarding soek by ’n spesiale persoon, maar dat die proses nie altyd seepglad verloop nie. Dié voelgoed-sokkie-liedjie met sy pop-aanslag sal aanhangers se voete behoorlik laat jeuk op die dansvloer.

Eugene Nel van Eulen Records en die sanger self was verantwoordelik vir die lirieke van die liedjie en hulle idee was om die boodskap oor te dra dat ’n mens nooit moet ophou droom en werk aan iets nie, want tyd is in God se hande en nie in die mens se eie nie.

AAN MY SY gaan oor ’n ou wat sy oog het op ’n meisie, maar sy wil niks van hom weet nie,” verklap die sanger oor die betekenis. “Baie van ons verstaan daai uitdaging maar té goed, maar ons moenie dat dit ons onderkry nie!”

Justin glo dat die publiek die liedjie goed gaan ontvang omdat baie mense daarmee sal kan vereenselwig. Daar is selfs al ’n paartjie wat op trou staan in Australië wat angstig wag vir die vrystelling!

Die idee vir die musiekvideo het ontstaan toe die produksiespan na die liedjie geluister het. Professionele mense soos Deon van Wyk en Johan Brummer (Fatman) het ’n mooi storielyn saamgestel oor ’n ou wat ’n meisie se guns probeer wen.

“As ons na moderne verhoudings kyk lyk dit of geld en status die hoofrol speel,” sê Justin oor die hart van die musiekvideo. “Ons het probeer wys dat liefde, saam ’n lewe bou en gelukkig wees die belangrikste faktore behoort te wees vir ’n goeie verhouding.”

Die video is geskiet by die Tarentaal Teater in Rustenburg en het die lig gesien te danke aan Muse Studios, Eulen Records vir die produksie, Muishond Produksie Huis vir die verfilming, Kliphard Records as die hoofborg en Audio Mafia vir al die reëlings en bystand.

Die musiekvideo het vir Justin gewys hoeveel werk daar régtig in so ’n produksie gaan en het hom ’n diep respek gegee vir almal wat al die ure ingesit het, asook vir Audio Mafia en Hans Scheepers vir al hulle harde werk met die logistiek en motivering.

Die 37-jarige sanger is in Germiston gebore en het in Boksburg groot geword, waar hy tans nog woon. Hy is nie getroud nie en het ’n viervoetige Husky-seun, Wolf, wat verslaaf is aan hoenderpote en al meer gewildheid op sy sosiale media verwerf het as hy self.

Sy oupa het hom ’n kwarteeu terug deur middel van ’n oudiomenger aan die musiekbedryf bloot gestel. Justin het gemeen dat musiek vir oumense bedoel was, maar toe sê sy oupa vir hom dat musiek deur hulle are pomp en dat hy binnekort sou belangstelling toon. Twee maande later het hy by sy eerste troue musiek gemaak op die ouderdom van twaalf.

In 2014 het hy by die HOFA Kollege in Karlsdorf, Duitsland, sy graad as klankingenieur verwerf. Hy al 19 jaar in die bedryf, waarvan hy tien jaar lank al as gekwalifiseerde klankingenieur werk en vier jaar lank al ’n sanger ook is.

Oor sy hoogtepunte verklap hy die volgende: “Dit was ’n groot eer om die verhoog te kon deel met groot kunstenaars soos Brendan Peyper, Fatman, Elizma Theron, Gibbon, Dewald Steyn, Juan Boucher en Dirk van der Westhuizen.”

Wanneer dit kom by groot name saam met wie hy nog sal wil werk, is Steve Hofmeyr, Elandré, Dirk van der Westhuizen, Juan Boucher, Franja, Monique Steyn en Elizma Theron hoog op sy lys.

“Ek is ’n 80’s-, 90’s- en hede-baba om so te sê,” sê die sanger oor sy invloede. “Neil Diamond, Bruce Springsteen en Roxette het gehelp om my persoonlike styl te vorm. Ek hou ook baie van pop, rock en country.” 

Justin is tans ’n vrywillige brandweerman. Hy fokus ook baie op diere- en wildbewaring en indien hy enigiets anders in die lewe sou kon doen, sou dit iets in hierdie lyn wees. 

Sy hart lê ook by die gemeenskap en in sy vrye tyd doen hy wat hy kan om hulp te verleen aan hulpelose mense.

“Wees nederig en dankbaar vir wat jy het,” sê die sanger oor wat hy al in die lewe geleer het. “Dinge gebeur op God se tyd en nie op ons eie nie.”

Van die grootste uitdagings wat hy al moes oorkom, was om voor 50 000 mense te praat en sing. Mense se negatiewe kommentaar en jaloesie is ook iets wat hy moes leer om te hanteer. 

Sy planne vir 2026 is om meer musiek vry te stel. Sy bemarkingspan is ook hard aan die werk om seker te maak dat sy loopbaan seepglad verloop. 

Justin het al harde klippe gekou in die lewe en dis juis omdat hy ervaring het met moeilike tye dat hy kan nederig bly.

AAN MY SY is ’n refleksie van hierdie nederigheid in ’n verhouding en die sanger hoop dat aanhangers sy hart sal hoor in elke liriek.

Die snit is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms. Kry dit hier:  https://ffm.to/justin-coetzee-aan-my-sy
Die musiekvideo is 16 Januarie beskikbaar op YouTube. Kry dit hier:  https://www.youtube.com/@justincoetzeemusic
ISRC Kode: ZB2OE2500007

VOLG HOM OP SOSIALE MEDIA

Facebook – https://www.facebook.com/share/16Ke5V4PW3/

Instagram – https://www.instagram.com/justin__coetzee00?igsh=eWZoaXlodWI1N2M0

TikTok  –  https://www.tiktok.com/@justincoetzee?_r=1&_t=ZS-91j40gSsWud

Threads  – https://www.threads.com/@justin__coetzee00

YouTube – https://youtube.com/@justincoetzeemusic?si=LHdjgzSblwuwVE-v