FOKOF LAGER:

Van drome oor pynappelbier tot ‘n Silwer Pendoring

Fotograaf: Jaco S. Venter.

Hunter Kennedy, Wynand Myburgh, Francois van Coke, Jaco Snakehead Venter, Johnny de Ridder

In Fokofpolisiekar se beginjare het hulle gedroom oor pynappelbier in hul agterplaas brou om by hul vertonings te verkoop.

Fast forward sowat 22 jaar en die groep se eie bier, Fokof Lager, is te koop by, onder andere, verskeie Pick ‘n Pay Liquors, OK Liquors, Tops Liquors en die voorste kroeë landswyd.

En op 4 Desember het hierdie onafhanklike bier weggestap met ‘n Silwer Pendoring vir hul ‘Sports Drinkers’ binneshuise gedrukte advertensie veldtog.

Fokofpolisiekar se lede het in die verlede nie veel omgegee oor pryse verwerf vir hul musiek nie omdat dit ‘n subjektiewe medium is. Hulle het nog altyd vir ‘n baie klein deel van die bevolking (tog baie lojaal en aktief) gespeel, maar tog was die doel om altyd te groei.

“Bierverkope is meer homogeen en ons was van dag een af opgewonde om te sien hoe ons die bier mark kan skud en meer kompeterend kan optree. Bier was in ons vroeë dae iets wat ons aan die gang gehou het op lang toere en ons het baie ondervinding met wanneer die biere lekker of sleg was. Ons is nie wetenskaplikes nie maar bier is meer van ‘n gevoel – amper soos musiek,” vertel Jaco ‘Snakehead’ Venter, wat Fokof Lager bestuur.

En dit is hoekom Fokofpolisiekar besluit het om in te skryf vir die Pendorings. Jaco sê verder dat “‘n tweede plek posisie in ons eerste jaar in ‘n kategorie, sonder ‘n goud wenner, maak ons net meer geïnspireerd om weer in te skryf en te kyk hoe ons nuwe lewe in ‘n holrug industrie kan inblaas.”

Jaco se verder dat “die feit dat daar nou wel wetgewing mag kom wat alkohol advertensies kan verbied is vir ons anti-komperend want in ‘n mark waar drie groot maatskappye domineer is ons, en baie ander klein spelers, nogals afhanklik van die onderskeid wat ons handelsmerk kommunikasie ons bied. Selfs is alkohol gesien as ‘n euwel in sekere segmente van die Suid-Afrikaanse publiek en sekeres wil dit ‘ban’, glo ons dat persoonlike vryheid, keuse en verantwoording hoër  geag moet word. Anders, waarheen is ons op pad?”

Fokof Lager is ‘n span sport:

Jaco ‘Snakehead’ Venter doen basies alles aan die bemarkingskant van die handelsmerk. (Iets wat hy 11 jaar gestudeer het gesamentlik met sy Fokofpolisiekar loopbaan.)

Hunter Kennedy is baas van kopieskryf, Johnny de Ridder tree in wanneer musiek nodig is, Wynand Myburgh maak seker die boeke klop en Francois van Coke sit hand by waar nodig is.

En wat is Fokof Lager se planne vir 2026?

Jaco vertel: “Ons hoop om eerstens weerens baie bier te drink saam met lekker mense. Ons gaan ook nog ‘n paar ape uit die mou trek om onafhanklike bier bemarking verder te stoot binne ons klein niche segment van die mark. Ons kan egter nie veel meer vertel nie anders gee ons alles weg. Basies, ‘ons hou aan dop en hou ons dop’.”

Fokof Lager se Pendorings inskrywing:

In ’n bierlandskap versadig met erfenisstories, stadion-spektakel en vals beloftes, kies Fokof Lager om eerder die waarheid te tap. Geen blink bog of perfect-pour clichés nie, net rou tipografie wat soos kroegliedere oor sport se werklikheid sing: nie elite atlete en goue medaljes nie, maar die alledaagse “sport” van die werklike lewe. Dis bier vir dié wat skaapmentaliteit weier, huigelary uitwys en hul oneerbiedigheid as medalje dra; en elke sluk is ’n standpunt so duidelik soos die naam self: Fokof Lager.

Skakels:

Webwerf: https://www.fokoflager.com

Instagram: @fokoflager

Facebook: @FokofLager