Soms kry ’n besonderse musikant dit reg om musiek te skep wat met die siel praat, en elkeen wat daarna luister met ’n mengelmoes van emosies agter te laat wat hulle nog vir lank daarna sal by bly.

Volksgrond, Jay Gibson se treffende nuwe enkelsnit, met ’n folkrock-aanslag, gaan diep spore in aanhangers se harte trap, omdat dié liedjie Afrikaners se stories en geskiedenis met soveel deernis vasvang.
Die titel is ongekompliseerd en opreg en die lirieke, uit Jay se eie pen, is meesterlik saam met die uitsonderlike wysie deur Hugh Lynn van Eulen Records in die ateljee vervaardig tot ’n merkwaardige eindproduk wat luisteraars in vervoering gaan hê.
“Hierdie liedjie beteken baie vir my, want dit eer ons volk se geskiedenis en skets ook die prentjie oor wat huidiglik in ons land aangaan,” sê Jay oor die boodskap agter die lirieke. “Daar is baie verhale wat aan ons nageslag oorgedra moet word en as ons dit nie doen nie gaan al daardie stories van ons erfenis en tradisies uitsterf en dit sal ’n tragedie wees.”
Oorspronklik het die klerehandelsmerk, Volksgrond, wat fokus daarop om kultuur en identiteit deur modeontwerp te vier, Jay genader om ’n ambassadeur vir hulle te wees en hulle titelsnit te sing. Hulle gesamentlike liefde vir ons land en moedertaal was die wegspringpunt vir Volksgrond se ontstaan.
Oor hoe die publiek die liedjie gaan ontvang, sê die sanger die volgende: “Ek hoop werklik dat luisteraars die hart van die boodskap sal hoor en verstaan en nie sal vashaak op politiese denkwyses nie, want dit is beslis nie waaroor dit gaan nie. As almal net die koor kan saam sing by vertonings sal ek weet dat my doel met hierdie liedjie bereik is.”
Volksgrond is die talentvolle musikant se vierde enkelsnit en ook die een waarvoor hy graag onthou wil word, want dit beeld sy hart op die suiwerste manier uit.
Musiek is van jongs af vir hom soos ’n tweede asem. Op vierjarige ouderdom het hy die dromme begin speel en op dertien het hy die kitaar baas geraak. Toe hy sewentien jaar oud was het hy sy eerste sangkompetisie gewen.
“Ek is al vir 21 jaar lank in die musiekbedryf en kan amper elke instrument speel behalwe die trekklavier, konsertina, viool en harp,” verklap Jay oor sy musiekervaring. “Ek sal myself klassifiseer as ’n sanger, musikant, liedjieskrywer en vervaardiger. Tans vervaardig ek baie musiek vir ander kunstenaars in my ateljee.”
Dié veelsydige man, met die donker oë en diep stem, het in Vereeniging groot geword en woon tans in Vanderbijlpark saam met sy vrou en twee pragtige kinders.
Bedags is hy ’n gekwalifiseerde veiligheidsouditeur wat sy eie beroepsveiligheidsmaatskappy besit. Hy dra baie hoede in besigheid want hy het ook ’n maatskappy, Feed my Craving wat warm souse maak en Perfumes International wat parfuum en velsorgprodukte vervaardig. Tans het hy vyf souse en twee parfuums wat hy onder die Jay Gibson-handelsmerk by vertonings verkoop.
Van hoogtepunte kan hy die volgende vertel: “Ek het al die verhoog gedeel en geopen vir groot kunstenaars soos Nicholis Louw, Theuns Jordaan en Thys die Bosveldklong.”
Die sielvolle kunstenaar is ook onlangs genomineer vir Melomaan se Manlike Kunstenaar van die Jaar en sy eerste enkelsnit, Impulsiewe Besluite, was ook daar genomineer vir popliedjie van die jaar. Die enkelsnit het geskiedenis gemaak op Vaal Stereo, waar hy op week een reguit na die nommer een posisie gegaan het.
Verder het hy ook in die September-uitgawe van die aanlyntydskrif, The Vocalist, verskyn en ’n volle artikel daar binne geniet.
Jay kyk op na groot plaaslike kunstenaars soos Steve Hofmeyr en Jo Black omdat hulle musiek anders met hom praat en hy sal eendag graag nog saam met hulle al twee wil werk.
Op ’n internasionale vlak het Neil Diamond ’n groot impak gemaak op sy jongmenslewe en beskou hy hom as ’n rolmodel.
Musiek praat op unieke maniere met hom en daarom is hy glad nie genre-gebonde nie. Hy luister self na enigiets, maar erken dat hy nie ’n groot aanhanger van kletsrym is nie.
“Ek hou daarvan om sinvolle lirieke te skryf wat gaan oor my eie lewe en ek skryf veral baie goed onder druk,” sê Jay oor sy skryfproses. “Ek het al harde klippe gekou in die musiekbedryf, so dit beteken baie as mense kan vereenselwig met my liedjies.”
As hy enige ander beroep sou kies sou hy ’n argitek wou word, want teken en berekeninge doen was nog altyd een van sy sterkpunte.
Nie baie mense weet dat die man met die groot humorsin eintlik ’n introvert is wat vasgevang is in ’n ekstrovert se liggaam nie. Daar is ’n geheime projek waaraan hy van skooldae af werk, ’n komiese boek wat al by hoofstuk 145 trek. Hy het nog nie die moed bymekaar geskraap om dit aan die wêreld bekend te stel nie, maar hoop dat die boek eendag die lig sal sien.
“Nie almal gaan van jou of jou musiekstyl hou nie en dis oukei. Hou net aan doen wat jou gelukkig maak want daar sal tog mense wees wat daarvan hou,” skerts hy oor die lesse wat hy al geleer het.
Goeie lesse was ook al geleer en hy kan enige mede-kunstenaar aanraai om nie kostes te bespaar op ’n goeie vervaardiger en goeie publisiteit en bemarking nie. Elke liedjie wat vrygestel word het net een kans om ’n eerste impak te maak en dit moet reg gedoen word.
Jay het al moeilike tye in sy lewe oorkom. Die drie belangrike vroue in sy lewe, naamlik sy ouma, ma en suster is almal in die tydperk van ’n jaar en ’n half oorlede en dit het sy lewe en loopbaan geweldig geknou. Ná vyf jaar wat hy weg gedraai het van die musiekbedryf het hy besluit om hulle herinnering te eer en weer volstoom terug te keer na musiek.
Vir die volgende jaar is sy planne om die land te toer en die verhoog te deel met groot name in die musiekbedryf.
Die ding waarvoor hy die meeste hoop is dat hy Volksgrond nog by baie vertonings kan sing en dat dié eg-Afrikaanse lied ’n huishoudelike naam sal word en net soveel erfenisstatus sal bereik as die kleurvolle stories wat in die lirieke vervat word.
Volksgrond is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://ffm.to/jay-gibson-volksgrond
Download die liedjie vir hoë gehalte: Kry dit hier: https://drive.google.com/file/d/1sajq9I8uAjg9FLZh8Cv_ChyNfazy5I3j/view?usp=drive_link
Download die Sleeve in hoë resolusie: Kry dit hier: https://drive.google.com/file/d/1JWZvLRy0xF6aqacNYIdvyyb646RLeYrw/view?usp=drive_link
Musiekvideo is beskikbaar op YouTube. Kry dit hier: https://youtu.be/V-TuAVL89z0
ISRC: QZYFZ2514139
UPC: 7316481377917
Volg hom op sosiale media:
Facebook: https://www.facebook.com/share/19Q5ZMM9a2/
TikTok: https://www.tiktok.com/@jaygibsonmusiek69…
Instagram: https://www.instagram.com/jaygibson2025?igsh=MWpqc3lhZGpoNW00OQ==
Threads: https://www.threads.net/@jaygibson2025
YouTube: https://youtube.com/@jaygibson259?si=XIzEByerBzmd7UEe
WhatsApp Kanaal: https://whatsapp.com/channel/0029VbAS0WjJJhzVLKm5P01W
Spotify: https://open.spotify.com/artist/2zYOECqV6PGCAEdspG2rVH…


