Rouchelle– Sonvanger

Valiant Swart se treffersnit Sonvanger, wat in 2002 op sy album Maanhare verskyn het, het intussen volksbesit geword. Dié lied het oor die jare weerklink uit die stemme van onder andere Corlia Botha, Laurika Rauch en Karen Zoid. Hoewel die snit oor die algemeen sy oorspronklike melodie en interpretasie behou het, het die nuwe generasiesangeres Rouchelle dit onlangs herverwerk en verpak – en sodoende amper ’n nuwe betekenis aan die metafoor van die sonvanger gegee.

Die lied handel oor die dood, rou en uiteindelik aanvaarding, maar vir Rouchelle is die sonvanger ’n simbool van lig, warmte en vrede. “Elke persoon vorm sy eie gedagtes en herinneringe rondom die liedjie, maar dit laat my dink aan die sonsopkoms of -ondergang wat jou soms woordeloos laat. As ons maar net elke dag ’n stukkie van die son kan vang, sal dinge soveel mooier wees.”

Rouchelle het verlede jaar toevallig die musiekpromotor Lydia Winchester in ’n apteek ontmoet. Nadat Lydia haar in die koffiewinkel Honeybrew Café – wat ook aan Rouchelle behoort – hoor sing het, het sy haar oortuig om ’n enkelsnit op te neem.

So tussen die gesis van spek en die gebrom van ’n koffiemasjien is die lirieke van haar debuutenkelsnit, Golwe van hoop, gebore. Die snit is in April vanjaar uitgereik en het baie goed gevaar op plaaslike en nasionale radiostasies.

Rouchelle se stem, ’n diep sopraan, breek soos ’n magtige brander teen die rotse, en in ander oomblikke sus dit soos die wind deur jou hare. Haar unieke stem interpreteer Sonvanger ook op ’n eiesoortige manier wat dit onderskei van vorige weergawes.

“My weergawe van Sonvanger het ’n nuwe gevoel – een met nuwe lewe en skop,” vertel sy.

Hoewel Sonvanger  ’n dieper betekenis het – Valiant het dit geskryf nadat ’n musikant van Stellenbosch selfdood gepleeg het – het Rouchelle se weergawe ’n dansritme wat in ander weergawes afwesig is. Tog word die snit nie ’n vrolike huppelliedjie wat in ’n danskroeg gespeel word nie; dit behou die absolute melancholie en amper-verdrietigheid van Valiant se oorspronklike weergawe.

“Ek het ook ’n ander betekenis in Sonvanger gevind. Ek beskou die boodskap as een oor hoe ’n mens op ’n donker dag net ’n bietjie lig benodig. Die lig van die son simboliseer vir my hoop, liefde, geloof en vrede.”

Rouchelle se toetrede tot die musiekbedryf is ook anders. Sy het nie in plaaslike kroeë begin nie, maar in haar eie koffiewinkel.

Aanvanklik het sy net vir haar ouma op haar tagtigste verjaarsdag gesing – sommer ’n speellys wat sy self saamgestel het. Later het sy die koffiedrinkers en koek-eters begin vermaak, haar pop- en rockstem deur verskillende genres laat beweeg, asof sy al jare lank agter die mikrofoon staan.

Die snit is tegnies goed versorg, en ons kan met sekerheid sê: ons gaan nog baie van hierdie debuutkunstenaar hoor.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *