Die snit is ’n mengelmoes van blues-rock waar daar ’n oproep-en-antwoord patroon tussen die sanger en sy instrumente is.

Met sy jongste enkelsnit, Wêreld van die meeu, keer die sanger Chris Spies terug na sy wortels as ’n beskoulike liriekskrywer waar die natuur prominent staan om ’n boodskap of kritiek rakende menslike interaksie oor te dra.

Chris, wat eers op die betreklike hoë ouderdom van 68 tot die musiekbedryf toegetree het, se eerste drie enkelsnitte, Offers van Afrika, Kgalagadi, en Einde van die Omega, is voorbeelde van ritmiese poësie waarin die natuur sterk figureer.

Met sy vierde enkelsnit, Bruilfof van die jaar, het hy van sy resep afgewyk en kolskoot boere-nostalgie gepleeg waarvan die eindresultaat op die top tien-trefferlyse van plaaslike radiostasies geboer het,

Nou, amper ’n jaar later maak hy weer sy stem bas en tref raak met woorde soos weste wind, woes, waai, snoekloop en vlerke waar die allemintige krag van seestorms, die woeste gedreun van die wind en die gekrys van die meeu nie onderskat moet word nie. Die kontras van ’n woeste storm en dan weer sonskyn word ook in die snit onderskryf.

Soos met Bruilof van die jaar waar ouma Dollie die heldin van die troue word want “sy hou die kele nat” word die meeu die held in Wêreld van die meeu. Die meeu is die een wat oor die storm waak en ook weet wanneer dit gaan oorwaai.  


Die meeu het oor die eeue heen ook ’n simbool geword van vryheid en onafhanklikheid, eensaamheid en verlange, maar word ook ingespan as ’n boodskapper of gids om belangrike inligting oor die see of verlore geliefdes oor te dra.

Binne die konteks van die snit, het Chris dus ook die meeu ingespan om as boodskapper te dien wat ’n wakende ogie oor die see hou.

Chris is ’n uitstekende waarnemer – iets wat ook in sy ander snitte bespeur kan word. Dit is ook hoe Wêreld van die meeu gebore is; van fyn kyk en dophou en die natuur in al sy oer-emosies te verstaan en te waardeer.

“Die oorsprong van dié snit,’’ vertel hy, “spruit uit ’n observasie tydens ’n vakansie op Elandsbaai aan die Weskus. ’n Geweldige storm was besig om oor die see op te steek en ek het gesien hoe ’n bekommerde vrou oor die donker see staar. Ek het haar oë gevolg en ook ’n klompie skuite wat telkens tussen die hoë deining na vore kom en dan weer verdwyn gewaar.’’

“My instink was dat daar moontlik familielede van die vrou op die skuite was. Sy was dus natuurlik bekommerd oor die ontstuimigheid van die see. In my geestesoog het ek gesien hoe die skuite verswelg word tussen die hoë golwe en die stormwinde. Die volgende oomblik het ’n  meeu tussen ons deurgevlieg en doodluiters begin kos soek op die strand en rotse.’’

“Ek het besef dat ons die dreigende storm vanuit twee wêrelde ervaar. ’n Wêreld waar ons eers op die negatiewe konsentreer (dat die visserbote gaan sink) en ’n wêreld waar die natuur ook voorsorg tref en genade bring.’’

Die snit is ’n mengelmoes van blues-rock waar daar ’n oproep-en-antwoord patroon tussen die sanger en sy instrumente is. Die liriek en musiek is ook so fyn verweef dat dit ’n amperse hipnotiese effek skep waar die storm, wind en see ’n visuele hoorbeeld vorm.  

Chris het op die plattelandse dorpie Fochville in Noordwes grootgeword. Hy was ’n plaasseun wat sedert sy kinderjare aan musiek en liriek blootgestel was.  “My ouers was beide musikaal en my pa was ook een van die stigterslede van die Potchefstroom Universiteit (nou die Universiteit van die Noordwes) se Alabama-studentegeselskap.

Chris glo ook dat Christenskap, die Afrika-kultuur en harde werk eienskappe is wat in hom uitgebeitel is. Eienskappe wat ook sterk in sy lirieke figureer.

Chris se lewenspad het ’n paar wye draaie geneem voordat hy uiteindelik, na sy aftrede, weer aandag aan sy musiek sou kon gee.

Hy het sy loopbaan as elektrisiën begin en homself daarna as elektriese ingenieur bekwaam. Hy het teen die korporatiewe leer geklim en tot en met sy aftrede die pos van  elektrotegniese stadsingenieur en uitvoerende direkteur van infrastruktuur in die Merafong-stad aan die Wes-Rand beklee. Na ’n vervroegde aftrede het hy sy eie ingenieursbesigheid begin en was tot onlangs toe nog daarmee besig.

Wêreldvan die meeu is rou en opreg en laat ons tot die besef kom dat die natuur ’n mag is wat ons nie vreesloos kan aandurf nie.

Die snit is deur Johan Rautenbach verwerk en vervaardig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *