Op die publisiteitsfoto van Ryan Burnwood se jongste enkelsnit, is die sanger in gitswart geklee. Aan sy sy is sy swart kitaar waarop ‘n gesig geverf is; dit word as ’n jukstaposisie ingespan om die kontras (maar ook die samehorigheid) tussen sanger en sy instrument aan te dui. Die swart bord in sy hand herinner nogal sterk aan ’n toneel uit Love Actually. Die boodskap: Soeke na jou.
Dit is ook die titel van sy jongste enkelsnit wat ’n prelude tot ’n donkerreis is om sy geliefde te vind. Die sanger verwys nooit na die persoon se naam nie – net as jou. Dus ook ’n simbool dat die jou ’n universele behoefte aan die soeke na die regte persoon is.
Ryan het ook vroeër vanjaar ’n Afri-Indie in die kategorie vir die beste sagte rock enkelsnit vir Leef binne my gewen. Waar die snit saggies deur die siel gemurmureer het, is Soeke na jou, harder en donkerder. Amper ’n weënreis; die reisiger moet baie (siels)struikelblokkie oorkom om einde ten laaste “vir jou te vind.”
Die sielsreis word ook in die eerste reël van die snit saamgevat: ….daar’s ’n plek binne my, waar ek net aan jou dink, elke droom in die dag, die een wat my oë laat lag. Ohh. ek sal vir jou wag….
Ryan beskryf die snit as ’n hartsbegeerte. “Ons almal soek na iets in die lewe. Iets wat ons na smag, ’n hartsbegeerte. Geld en besittings beteken niks as jy nie iemand het in jou lewe wat alles die moeite werd maak nie. Iemand wat jou ’n rede gee om deur die lewe se ups en downs te druk.”
Soms ontmoet jy die persoon, maar dit is nie die regte tyd nie. Daarom vra Ryan ook die retoriese vraag: “Sal jy vir daardie persoon wag?” ’n Vraag wat moeilik is om te antwoord en soms geen antwoord het nie.
Hoewel Ryan ’n rocker is met ’n bietjie Jan Blohm en ’n datjie Ryno Velvet is die snit baie donkerder as sy vorige snitte. Die meesterlike beheer oor die kitaar maak dat die luisteraar saam met die sanger in die middernagtelike ure ronddwaal, soekend na die “jou” wat hy nie kan vind nie.
Die snit is soos om dolosse te gooi en te wag dat die beentjies op die regte plek val. Kanse teenoor onsekerheid is van die hooftemas in die snit.
Ryan is op die mydorpie Stilfontein in die Noordwes-provinsie gebore. Hy het sy graad aan die destydse Vaaldriehoek Technikon verwerf en “toe ek gradueer kon ek sommer ook kitaar speel.”
Ryan is die meester van die kitaar en hy is ook die trotse eienaar van dertien kitare, “maar my gunsteling kitaar, sê hy, is die elektrise kitaar, want dit is waaruit rock ’n roll-klanke kom.”
Afgesien van die akoestiese, bas en elektriese kitaar, kan hy ook vyf ander instrumente bespeel.
Ryan het sy toetrede in 2012 tot die kommersiële musiekbedryf gemaak, maar is al vanaf 1998 met musiekdinge besig; hy was deel van sy kerk se lofprys- en aanbiddingsgroep. Hy het na ’n paar jaar dié groep verlaat. “Ek moes terugkeer na my ouerhuis in Klerksdorp, want my lewe het in duie gestort. Tóg was dit ook vir my ’n nuwe begin, want kort daarna het ek na Rustenburg verhuis waar my vriende my aangemoedig om voor gehore te begin optree.”
Hy het na hulle geluister en in Desember van daardie jaar het hy ook sy eerste vollengte album, Never let go, uitgereik wat ’n diep, persoonlike boodskap oorgedra het.
Ryan beskou sy lirieke as iets wat diep uit sy siel kom. “Ek wil emosies in die luisteraar wakker maak, hetsy dit goeie, slegte, hartseer of gelukkige tye is,” sê hy. “Musiek is die sleutel tot die siel. Musiek, is volgens my, die enigste ding wat mense van alle rasse en kultuurgroepe in gemeen het.”
Ryan het ’n paar jaar gelede na Hartbeespoort verhuis en dáár het sy paaie ook met die van die sanger en musikant Blackie Swart gekruis. Dié ontmoeting het vir Ryan nuwe musiekdeure oopgemaak.
“Blackie het my onder hande geneem en het my gehelp om musikaal te groei. EK het gereeld in sy kuierkroeg, Lulu’s, begin optree.”
In die ateljee het dinge ook vir Ryan begin gebeur – dit was asof lirieke uit hom begin stroom het. “Ek het in die stadium meer liedjies wat opgeneem moet word as tyd tot my beskikking,” spot hy.
En die lourierkrans op sy kop is sy eerste Afri-Indie-toekenning wat nou op een van sy rakke pronk. Dit het hom laat besef dat elke stukkend gespeelde plektrum, elke traan en elke letsel die moeite werd was.
Soeke na jou is ’n lekker luistersnit wat by oud en jonk sal byval vind.