Soen my op my Boepie is Daniel Hoffmann se eerste treffer wat in 2010 vrygestel is en die sanger het met behulp van ’n bekwame span vir dié snit ’n nuwe baadjie aangetrek, wat beslis aanhangers se goedkeuring sal wegdra en ’n glimlag op hulle gesigte sal sit.
Dié gewilde Afrikaanse dans-komedie-snit is geskryf deur Hennie Nel, vervaardig deur Hugo Ludik van Muse Studios en Dylan Emslie, beter bekend as “Mooi Jan” van die gewilde groep Jan Jan Jan deel ook sy talent op die konsertina. Dit vertel die lighartige storie van ’n tannie wat haar man wil soen op sy boepie en dat hulle liefde nog lank nie koud is nie, selfs al is die kinders reeds uit die huis uit.
“Die liedjie beteken baie vir my omdat die sukses wat dit behaal het so ’n groot mylpaal was in my loopbaan,” verklap die sanger oor die nuwe weergawe. “Die publiek is nog altyd mal daaroor en versoek by al my vertonings dat ek ‘Boepie’ moet sing, waarna hulle reguit na die dansvloer gaan.
Nou kan die liedjie net groei in sy populariteit.”
Aanhangers sal opgewonde wees om te weet dat die musiekvideo ook nuwe lewe gaan kry en dat daar ’n paar verrassings voorlê met bekende gesigte soos legendariese komediant Eddie Eksteen en Bibi wat gaan sorg vir ’n lekker komiese aanslag in die rol verdeling.
Soen my op my Boepie is die talentvolle sanger se derde enkelsnit en hy glo dat die publiek dit net so goed sal ontvang soos die vorige snitte, want hy meen dat die lewe te ernstig is en dat musiek die mag het om ’n mens die lewe te laat geniet en vir ’n ruk te laat vergeet van jou probleme.
Die 37-jarige sanger is in Newcastle gebore en woon tans in Witbank. Hy is al veertien jaar lank aktief in die musiekbedryf en wou na skool niks anders gaan studeer nie, want hy het geweet dat musiek sy voltydse passie sou bly: “Toe ek nog klein was het ek begin sing op Billy Ray Cyrus se musiek en ek het nooit enige professionele musiekopleiding ontvang nie. Ek het net geweet dis wat ek wou doen met my lewe,” deel hy oor sy musikale agtergrond.
Harde werk is iets waarvoor die talentvolle musikant nie bang is nie en hy gee die krediet vir die oorsprong van sy loopbaan aan die Country-legendes Billy Forrest, Bobby Angel en John Lindeman, wat die kans gevat en gehelp het sodat hy sy eerste album kon vrystel.
Familie is vir Daniel baie belangrik en hy is mal daaroor om rustig tyd by sy huis te spandeer.
Omdat Kwa-Zulu Natal vir soveel jare sy tuiste was, verkies hy nou die bosveld bo die see wanneer hy ’n breek neem van die huis.
Na soveel jare se ondervinding was daar al baie hoogtepunte in sy musiekloopbaan, waaronder vertonings met die meeste groot name in die bedryf hoog op sy lys is. ’n Vertoning saam met een van sy musiekhelde, Steve Hofmeyr, net voor die covid-pandemie, het ’n baie spesiale plek in sy hart.
Toekennings is ook nie vir hom ’n vreemde verskynsel nie en hy het ’n nominasie gekry vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning in 2011 en dan het ook al vier Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings ingepalm vir beste volwasse kontemporêre album, beste Southern Rock-album, beste komedie- en beste gospel-album.
As hy enige ander beroep behalwe sang moes kies, sou televisie bo-aan sy lys gewees het.
Tans is die multi-talentvolle kunstenaar besig met die verfilming van Ouma se Raad, wat op NET Afrikaans gestroom kan word en binnekort beskikbaar sal wees. Die program bevat onderhoude met dertien oumas waar allerlei boererate, bygelowe en ouvroustories oorvertel word.
Nederigheid is vir Daniel ’n baie belangrike eienskap en hy het al geleer dat die een kunstenaar nie beter is as die ander is net omdat hulle meer sukses behaal het nie. Elkeen is uniek en bring iets na die musiekbedryf wat gevier moet word.
Soen my op my Boepie is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms. Kry dit hier: https://vyd.co/DanielHoffmannSoenMyOpMyBoepie
Musiekvideo Kry dit hier: https://www.youtube.com/watch?v=DKEgTIQGKJ4
Volg hom op sosiale media: Facebook:https://www.facebook.com/danielhoffmannfanpage?Mibextid=zbwkwl
Instagram:https://www.instagram.com/danielhoffmannsanger?Igsh=ogq5zdc2odk2za==
Tiktok:https://www.tiktok.com/@danielhoffmanntwe?_t=8ppfskiht0x&_r=1
YouTube:https://www.youtube.com/channel/UCsfc0zDT6O9y8BTLHr9g7ww