Die alternatiewe groep, Ink, is die maand terug met ’n vollengte album met die eenvoudige titel Vol 1.
Die titel is, net soos die groep, ’n enigma. Vol kan enigiets beteken; gevul, volgemaak volgeprop, volledig, volbring.
Maar in die konteks, sê die groep, wat bestaan uit, André Fourie en Ilse Lotz, beteken dit net volume; van hulle beste kreatiewe uitsette.
Die liedjies op die album, wat uit elf snitte bestaan, delf diep in die menslike psige en emosies, vind waarheid in die absuleet, iets waarin daar geen twyfel bestaan nie.
Die derde snit op die album, Winterhuis , is ’n paar maande gelede as enkelsnit uitgereik, en het goeie terugvoer van radiostasies en luisteraars ontvang.
Hoewel die volle album op stroomdienste beskikbaar is, reik hulle nou ook die eerste snit op die album, Te lank gebly, as ’n enkelsnit uit. In dié snit word temas soos alleenheid, tydelikheid en rusteloosheid kaalvuis gepak word.
“Dit is ’n diep persoonlike liedjie oor tydelikheid en rusteloosheid wat verminder in ritme en melodie van alledaagse ervarings,” sê hulle.
Dié snit verval ook nie in ’n resepmatige patroon nie, maar diepsee-duik binne ’n musikale vreesloosheid wat ook in die res van hulle liedjiesgevind kon word.
Net soos in die geval van Winterhuis speel ’n huis ook die hoofrol in Te Lank gebly waar die snit as metafoor vir die tydelike ingespan word. Dié beeld resoneer in die lirieke… “Ek het te lank gebly in hierdie huis, daar is kamers wat ek jou moes wys…”
Die groep het op dié naam Ink besluit “aangesien dit weerklank vind in die liriese styl van hul lirieke en die proses van liedjieskryf. ’’
Ilse se liefde vir tatoeëermerke het ook ’n belangrike rol gespeel in die keuse van hul naam. Soos Ilse sê: “Die musiek word deur liriese beelde en egte akoestiese instrumente gedryf.’’
Ink is ’n Indie-Folk rockgroep wat inspirasie vir hul musiek uit die werke van Leonard Cohen, Bob Dylan en The Be Good Tanyas put. Tog is hulle musiek nie net ’n klakkelose napratery van goue musikante nie.
Hulle lirieke is eietyds Afrikaans gepeper met magiese folk-klanke wat die luisteraar op ’n betowerende musikale reis neem.
Ilse het ’n amper dromerige donker alt wat jou saam met die musiek na die wêreld van folkmusiek laat reis. Daarteenoor is André se stem weer soos ’n Koorsboom se donker bas wat goed met Ilze se stem konstrateer.
Die snitte op die album was ’n gesamentlike skryfpoging. Dit is ’n simbool van hulle unieke talent waarin musiek en liriek gestroop word van enige dekoratiewe klanke of ritme.
Ilse en André, wat beide reeds bekendheid verwerf het as musikante, liriekskrywers en sangers in groepe soos onderskeidelik BoneKey en Grey Matters, het Ink in 2022 gestig.
Hulle sê dat hul klank gekenmerk word deur beklemmende stemme en melodieë wat jou sal by bly, lank nadat die laaste noot weggesterf het.
Ilse het in ’n musikale huis grootgeword; haar pa, George Lotz, was die voormalige voorsanger en liedjieskrywer van die groep Silver Creek Mountain Band. Sy het deur die jare by verskillende groepe waaronder BoneKey en The Suitcase Hearts as sanger en liriekskrywer betrokke geraak.
Die destydse musiekresensent Danie Marais het toe BoneyKey se eerste album, Heartsong, as een van die beste albums in 25 jaar beskou.
André is een van die land se meester klassieke- en folkkitaar spelers. Hy was betrokke by die groep Grey Matters wat onder meer die album Agter Hierdie Einders die lig laat sien het.
Hulle is trots op die album en hoop die luisteraars deel in die vreugde wat dit die kunstenaars gegee het tydens die skeppingsproses.
Ludwig Brouwer van One Big Room Studios het die snit opgeneem en verwerk.