Sonneblomvrou is ook vir geestelike fynproewers wat dieper betekenis in ’n liedjie soek bedoel. 

Die sangeres, model en motiveringspreker Natasha Joubert kon nog altyd met ’n sonneblom vergelyk word; enersyds is haar boodskappe ’n kragtige metafoor vir groei, hoop en die strewe na lig, andersyds is sy ook ’n persoon wat altyd na positiewe energie soek selfs te midde van donker tye.

Haar jongste enkelsnit, Sonneblomvrou, is nie net ’n getuigskrif van dié lig wat sy uitstraal nie, maar ook ’n gebed vir elke “vrou, mamma, vriendin en dogter wat ’n lig op ons pad skyn wanneer dit somtyds op die donkerste is.”

Soos die meeste  van Natasha  se snitte is Sonneblomvrou ook vir geestelike fynproewers wat dieper betekenis in ’n liedjie soek bedoel.  Dit is daarom ook ’n genuanseerde snit met sensitiewe lirieke en melodieë wat jy nie altyd in gospelmusiek sal vind nie.

Sy onderskei haarself dus van ander gospelsangeresse omdat haar snitte nie prekerig klink nie, maar ’n opregte boodskap oor dra. 

Sonneblomvrou kan beskryf word as ’n volwasse kontemporêre snit en in tipiese Natasha-styl speel sy met musiek en liriek; klanke wat so fyn verweef is dat ’n mens anper die gesuis van die swart saadjies van die sonneblom en die groen blare in die wind kan hoor.

Natasha, ’n voormalige Mev. Verenigde Nasies Suid-Afrika en Mev. Verenigde Nasies Internasionaal, het eintlik bekendheid verwerf vir haar gospelliedjies wat op Christelike radiostasies se toptrefferparades gewipplank het, maar sy is net so ’n kragtige sekulêre popsangers wat met snitte soos O my Bokka en Daisy enige popprinses kan ore aansit.

Tog is dit haar gospelsnitte wat haar uniek maak…

“Ek is deur ’n  baie moeilike seisoen in my persoonlike lewe en ek moes keer-op-keer aan die waarheid van God se boodskap vasklou. Die Here het so baie keer – op verskillende maniere– vir my deurgekom. Hy het ook baie ander vroue oor my lewenspad gestuur – vroue vir wie ek ewig dankbaar sal wees. Die Here gebruik ons om vir mekaar hoop te gee.”  

“Dit is my hartsbegeerte om hierdie hoop met ander te deel. Daar is niks in die lewe wat eers naby aan hoop kom nie.’’

Natasha en haar drie kinders woon al die afgelope paar jaar op die kusdorpie Hartenbos in die Suid-Kaap. Hoewel sy soms – as enkelma – haar hande vol het met die spruite, sê sy dat sy steeds haar plek in die Suid-Afrikaanse samelewing volstaan. “Ek tree landswyd by damesoggend, eredienste, feeste, markte op. Ek doen ook gereeld huiskonserte.’’

Sonnbeblomvrou se oorsprong lê in ’n gedig wat sy iewers raakgelees het.  “Dié gedig het my baie geïnspireer en ek het aan die moontlikheid gedink om ’n liedjie daaroor te skryf.’’

Tydens ’n mini-liedjieskryfwerskwinkel het Natasha en die sangeres Carlé van Deventer ’n paar gedagtes neergepen oor die werklikheid van vrou-wees en die gepaardgaande emosies. “Ons het tot die besef gekom dat ons nie naastenby op ons eie in staat is om die mas op te kom nie. Ons krag lê in dinge wat ver bo ons begrip en verstand is.  Hierdie besef het gelei tot die ontstaan van Sonneblomvrou,’’ vertel sy.

Natasha het ook ’n handelsmerk Bloom by Natasha Joubert waaronder sy allerlei produkte met inpirerende boodskappe uit die Bybel verkoop en versprei. Vir haar is die handelsmerk ook ’n verlengstuk van haar musiek en die inspirerende boodskappe wat sy daagliks met vroue op haar sosialemediaplatforms deel.  

Haar boodskap aan elke vrou is: “ Sonneblomvrou, draai jou kop na die bron van alle lewe en hoop. Kry jou krag van Hom. Skyn helder vanuit daardie plek en maak lig vir almal rondom jou.’’

Darryl de lange  het die snit verwerk en die vervaardiging. Hy was ook verantwoordelik vir die gelyknamige musiekvideo wat ook eersdaags uitgereik word.

  • Vir optredes by kerke en damesoggende, huiskonserte, by markte en op feeste  kan Natasha gekontak word by 082 533 7957 of stuur ’n e-pos na optredes@natasha.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *