Afrika Kind het ’n sterk ritmiese rockgedrewe aanslag en die luisteraar sal Afrika in die snit kan proe, hoor en sommer ook ruik.

Die bekroonde rock-indoena, argitek en liriekskrywer het vir nou eers sy Nederlandse musiekwortels uitgetrek, en het na twee jaar in die geskiedkundige stad Den Bosch, dit weer in Suid-Afrika kom verplant.

Want dit is waar huis is; waar musiek en liriek een word met die gedonder van Afrika se branders, die gebrul van ’n leeu en die getrompetter van ’n olifant.

Dit is ook wat Daniel se jongste snit, Afrika Kind, simboliseer; dat bosse tulpe en klompe nóóit dit wat ’n mens in Afrika kan vind, kan vervang nie. ’n Musiekvideo vergesel ook die snit, wat weer op sy beurt Afrika baie visueel uitbeeld.

“Ek is vir nou eers permanent terug in Suid-Afrika. Ek het die meeste na ons mense, ons tradisies, ons kultuur, my familie en vriennde verlang,” vertel hy.

Volgens die jongste statistieke woon daar nou rofweg 915 000 Suid-Afrikaners in die vreemde.  

Dié snit is dus ook opgedra aan almal wat nog familie in Suid-Afrika het, maar weens omstandighede moes verplant. “Ek het net besluit dat ek ’n liedjie vir Suid-Afrika en sy mense moet skryf,” sê Daniel.  

Daniel het ’n jaar gelede  twee liedjies Die Laaste Trein en Elke huis het sy kruis vanuit Nederland in Suid-Afrika uitgereik, en dit was ook sprekende voorbeelde van die manier waarop Daniel met die Afrikaanse taal omgaan; elke woord het sy eie unieke betekenis, elke idoom gepas Afrikaans.

Afrika Kind het ’n sterk ritmiese rockgedrewe aanslag en die luisteraar sal Afrika in die snit kan proe, hoor en sommer ook ruik. Dit is tradisionele klanke vermeng met kontemporêre rock.

“Ek het die lirieke geskryf en die bekende musiekvervaardiger Peter Pearlson het die touleiding geneem met die vermenging van die klanke.”

Die snit is ook sterk liriekgedrewe en net soos met sy vorige snitte bewys Daniel dat hy soos ’n wafferse Professor Dumpledore met sy musiektowerstaf  die Afrikaanse woord in soetighede soos ….want as jy struikel sal sy (Afrika) jou optel… en kom ons loop hand-aan-hand,  die hand van Afrika…

Net soos die legendariese Johnny Clegg, het Daniel se stem ook metterjare  soos ’n goeie  1983-oesjaar geword; ryp, goedgedruif, goed gepars. Hy beweeg met gemak tussen ’n bariton en tenoor en klouter oor die laer note net so rats soos ’n luiperd teen ’n boom op.

Daniel, wat veral bekend is vir sy glas- en sement argitektoniese ontwerpe, het in Februarie 2021 by die internasionale werwingsmaatskappy Tailorminds aangesluit,  waar hy aan onder meer by die konstruksie van farmaseutiese-geboue betrokke was.

Maar hy het homself weer in Beachview,  in Kaapstad, dié stad van storms gevestig waar Afrika Kind ook opgeneem en vervaardig is.

Dié nuwe fase(de) – dit is ’n woord wat nogal baie deur argitekte gebruik word – lui ook nou ’n nuwe era in sy musiek in.

“Ek sal myself altyd as ’n kind van Afrika beskou. Ek is hier gebore en het ook hier grootgword.’’

Die liedjie is ook vir hom ’n wens: ’n Wens dat almal in die kosbare land (wat ons huis noem) sal saamstaan. Dat ons die land aan die suidpunt van Afrika met trots sal koester en positief opbou.’’

Afrika Kind is  kolskoot vir die kom-huis-toe-beweging. Dié snit gee ons genoeg redes waarom ons nie moet emigreer nie, maar eerder net hier moet bly.  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *