Tien jaar ná Lig op die Horison , een van die multi-bekroonde sanger en liedjieskrywer, Joshua na die Reën se eerste groot treffers, is hy steeds besig om harte te verower met sy betekenisvolle musiek, unieke styl, diep lirieke en besonderse klank.
In tipiese Joshua na die Reën-styl, is daar ’n baie spesiale formaat en boodskap agter sy nuutste projek, wat hy as volg beskryf:
“Kom voel hierdie oomblik saam met my… ons staan en kyk uit oor die Vallei, dis die begin van ons staproete. Dit het baie gevat om hier te kom, niemand weet beter as jyself nie. Die afgelope tyd was daar iets binne jou wat jou saggies maar dringend geroep het om uiteindelik hier te staan, weg van die samelewing, weg van dit wat jou kop besig hou elke dag.
Jy weet hoe min jy jouself toelaat om dit te ervaar, en nou is jy hier. Ek kyk in jou rigting, dis tyd om te begin. Ons stap saam af teen die hang van die berg. Ek ervaar hoe jou gemoed ligter raak, daar is niks soos die skoon lug en onbelemmerde gevoel in die atmosfeer van hierdie oomblik nie, die wind deur jou hare, die voëltjies en insekte, die stroom onder in die Vallei.
Daar is soveel hier om te vind. Raak mens net eendag wakker en weet, dit wat jy jou al jare lank aan meet is jy ewe skielik bereid om op te gee, en te vloei in riviere? Die vryheid van hierdie gedagte groei soos vlerke uit jou rug en op een of ander manier voel dit of jy saam met die arende deur die lugstrome in die Vallei sweef.
Jy wil vir altyd net hier wees, jy wil leef, jy wil jaarringe in oorvloed agter los. Jy wil in die oggend met die son wakker word, kruisbeen onder die seders op die oewer sit en net asem haal en die lewe inneem. Vir te lank was die normaal om nie te voel nie, om nie deel te voel van dit wat die Groot Gees van die Hemel en aarde vir ons gegee het nie. Jy raak stil, want jy weet nou dat dit maar nog altyd hier is vir jou, ’n gedagte weg.”
Sy nuwe liedjies en vrystellings begin reeds aanklank vind by ’n wye gehoor omdat dit ’n uiteenlopende kombinasie van lekkerluister popklanke, rustiger meditatiewe snitte en selfs elemente van R&B en alternatiewe musiek bevat. Dit sluit ook samewerkings met verskeie ander kunstenaars, waaronder Karlien van Jaarsveld en die Tuks Camarata-koor, in.
DIE VALLEI bestaan uit 18 oorspronklike snitte uit sy eie pen, wat sorgvuldig deur Gideon Botes verwerk is tot ’n volmaakte eindproduk.
“Ek het besef hoe meer jou musiek oor die radio speel, hoe meer luisteraars bereik jy. Dis tog hoekom jy kuns pleeg, sodat dit mense se lewens kan verander,” verduidelik hy. “Op sy mooi manier het Gideon gevat wat ek gebring het en dit omskep in iets waarop ek baie trots is. Ek sal graag in die toekoms weer saam met hom wil werk.”
Omdat elke liewe liedjie uit ’n baie persoonlike plek kom, is dit vir hom onmoontlik om ’n gunsteling te kies. Hy verklap wel dat Stroom en Rivier en Die Groot Gees van Hemel en Aarde hom na aan die hart lê omdat dit in sy eie tuis-ateljee opgeneem is en klanke van sy kinders en voëltjies in die tuin vaagweg in die agtergrond gehoor kan word.
Hy wou met die album en laasgenoemde lied die boodskap oordra dat sy inspirasie vir alles wat hy aanpak in die lewe van God af kom.
“Ek leef met die oorheersende gevoel dat al is God en sy skepping hoé groot, hy het my en jou ook gemaak.”
BY MY, die eerste enkelsnitvrystelling en musiekvideo vanaf sy nuwe album, is geïnspireer deur ’n e-pos-versoek wat hy van ’n luisteraar af ontvang het om ’n liedjie te skryf vir die persoon se huweliksherdenking, nadat iets gebeur het om die vertroue binne daardie huwelik permanent te skend.
“Die lirieke van die liedjie sê: ‘Bly. Bly as die wêreld gaan, en jy sal my kry as jy my nog kan sien vir my.’ Ons is so geneig om verby die essens te kyk van wie iemand regtig is. Almal het goed waarmee hulle sukkel, maar ons bly wie ons is ten spyte daarvan. Dis daarom belangrik dat ons mense sien vir wie hulle is en nie vir wat hulle doen nie,” verklap de Villiers oor die betekenis agter dié besonderse lied. “Dit was n voorreg om dit saam met Hannah Foster, Raziela Grey en Renee Kruger te kon opneem, met Gideon Botes as vervaardiger. Musiekvideo deur BrandMill”, sê hy.
Dié snit wat op 15 September uitgereik word volg in die voetspore van vorige suksesvolle vrystellings soos Lig op die Horison, Soos Nou, Die Wêreld Binne My, Vir Altyd, Sterrenet en vele meer, wat almal vir maande lank bo-aan die trefferparades in Suid-Afrika gepryk het.
Kyk die video hier: https://youtu.be/My0h4tO5j3I
Natuurlik kan ’n dekade in die musiekbedryf en ’n nuwe album nie verbygaan sonder om behoorlik gevier te word nie. Daarom het die kunstenaar besluit om albumvrystellings op verskillende plekke in die land te hou.
- 15 September by The Roots Venue in Potchefstroom.
- 16 September by Doxa Duo in Wonderboom, Pretoria.
- 18 September by die stadsaal in Stellenbosch.
Buiten vir sy orkes, wat bestaan uit Raziela Grey (viool), Heini Berner (kitaar), Gerhard, Bineldell (baskitaar), Stanley June (baskitaar), Andy Maritz (dromme) en Gideon Botes (kitare), gaan hierdie vertonings ook optredes deur ’n klomp gaskunstenaars insluit, waaronder Hannah Foster, Renée Kruger, en ander groot verrassings wat hy nie nou al wil weggee nie.
Kaartjies kos R250 per persoon en is beskikbaar by www.jndr.co.za.
Joshua na die Reënhet in 2014 naam gemaak met sy selfgetitelde debuut-album wat talle toekennings gewen het. Sedertdien het hy al verskeie suksesvolle radiotreffers uitgereik en die verhoog gedeel met van die land se gewildste musikante. Hy is ook vanaf 2019 deel van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond, saam met sy vriende en mede-musikante, Lizandra Winter, Len Muller, Kaleidoskoop, Leon Gropp en Liani Reynolds.
In 2021 het hy en Simoné Roets ook kragte saamgespan in die duet, Ongerep, wat steeds oor die radio gehoor kan word.
Verder is hy by verskeie opwindende projekte en samewerkings betrokke waaroor hy baie opgewonde is. Dit sluit in ’n hoofrol in die rolprent Reisigers wat volgende jaar verfilm word, ’n bewusmakingsveldtog oor die mens se verantwoordelikheid om die aarde op te pas en ’n reeks klere en toebehore saam met die handelsmerk NAVA.
Dis ook vir hom ’n groot eer om een van die gesigte te wees van Tapputi Egyptian Perfume Oils se splinternuwe mansreeks wat in Oktober vanjaar bekendgestel word.
Joshua na die Reën wil graag onthou word as iemand wat eg was, wat mense liefgehad het en dit gewys het. Sy hart is om bande te bou tussen die verskillende dele van die musiekbedryf, sodat almal kan saamwerk en mekaar se talent kan respekteer.
Met DIE VALLEI wil hy luisteraars kans gee om vir ’n oomblik te ontsnap van die werklikheid en hulle herinner waaroor die lewe regtig gaan.
“Ek hoop dat mense gaan voel hulle sal kan asem haal wanneer hulle na die album luister sodat hulle kan kom na die vallei en weg van hulle besige lewe op die bergkruine. Mense het gedurende Covid-19 baie mure rondom hulle gebou en kan nie meer onthou waaroor die lewe regtig gaan nie en ek wil hulle herinner wat belangrik is,” sluit hy af.
DIE VALLEI sal vanaf 6 Oktober 2023 op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar wees.
LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM
DMT
Die Groot Gees van Hemel en aarde
Die verte in
Stroom en Rivier
Meditasie
Broers
’n Laaste keer
Neuteboord
Iemand soos jy
Glystroom
Die Vallei
Beter vir ons albei
Daar is lig
Hoe ver, hoe wyd
By my
“Die album is soos ’n staproete deur ’n pragtige vallei. Aan die begin, soos wat jy afstap na onder, laat jy die gejaagdheid van jou besige lewe agter. Wanneer jy onder kom, is jou gedagtes skoon en oop en is jy in ’n meditatiewe fase, waarin jy kan selfondersoek doen en die mooi rondom jou raaksien en waardeer. Dan pak jy die terugtog na bo aan met nuwe moed en energie vir dit wat voorlê.”
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/JoshuaNaDieReen
Twitter: @JoshuaNaDieReen
Instagram: @joshuanadiereen
Webblad: www.jndr.co.za