
Arnand De Nigter se debuutenkelsnit, Vir Jou, is net so uniek soos die klanke wat die akoestiese kitaar skep.
Die akoestiese kitaar se skoonheid lê in sy vermoë om ’n boeiende en emosionele ervaring vir beide die speler en die luisteraar te skep.
En dit is presies ook wat dié Oosrandse-sanger met sy snit bereik het; ’n lekker-luister ervaring waar die klank van die kitaar en die liriek die hoofkarakters in die snit word.
Arnand beskryf Vir Jouas “iets wat met liefde en passie te doen het, vir iets of iemand waarsonder jy nie kan lewe nie.”
Die snit, vertel Arnand, is oorspronlik geskryf vir die groep, The Hound Dogs, waarvan hy ’n lid is. “Ek het egter een aand my kitaar opgetel en die snit begin speel. Die gehoor was mal daaroor. Ek het daarom besluit om dit as akoestiese snit uit te reik. Net ek en my kitaar.”
Die aksoestiese kitaar was vir lank nie deel van Arnand se wese nie. Hy het eerder met sy Fender op die verhoog gerock, maar die sagte gepluk van die plektrum het sy hart gesteel en hy stem nou saam dat die akoestiese kitaar beeldskone klanke kan voortbring.
Met dié snit maak hy ook amptelik sy toetrede as solo-kunstenaar tot die Afrikaanse musiekbedryf, maar hy het eintlik op verhoë grootgeword.
“Ek was baie jonk toe ek vir die eerste keer ’n kitaar opgetel het. Ek het dit net af en toe verruil vir ’n rugbybal of skaatsplank, maar andersins was die kitaar amper ’n verlengstuk van my hand,” lag hy.
Arnand het besluit om sy talent met mense te deel en het as tiener reeds in kuierkroeë saam met ’n musiekgroep opgetree. “Ek was nog te jonk om ’n drankie by die kroeg te bestel,” onthou hy, “maar musiek was in my bloed en taai kroegvloere en laataande het deel van my daaglikse bestaan geword.”
Vir Jou vorm deel van ’n versameling liedjies – wat hy so stuk-stuk as enkelsnitte gaan uitreik. “Vir Jou is ook die resultaat van ure se skryfwerk, oefening en opnames. Die snit verteenwoordig ook ’n klein deeltjie my storie en my behoefte om dit met luisteraars te deel.”
Dié snit is ’n stadige rock-liefdesballade wat vertel dat liefde nie noodwendig sinoniem is met rykdom nie, maar dit word ook ’n simbool van toewyding, fokus en liefde vir musiek.
“Om musiek voort te bring gaan ook dikwels met pyn gepaard. Net soos enige liefdesverhouding is daar ook teenstrydighede, frustrasies en vreugde,” verduidelik hy.
Vir Jou is opsetlik rou en eenvoudig. Versigtig, maar ook roekeloos eerlik. Dit is die werk van ’n sanger wat deur die lewe gekneus en geknou is, ’n paar stampe langs die pad gekry het.
Arnand is ’n aanwins vir die Afrikaanse rockmark en sal binnekort ’n groot gevolg hê.
Pragtig