Die snit handel oor baie meer as net ’n gebroke hart; dit vertel die universele verhaal van verskillende vorms van gebrokenheid.

’n Negentienjarige smaakmaker van Pretoria, Annerine Steyn, tree die maand tot die Afrikaanse musiekbedryf toe met haar debuutenkelsnit, Protea, wat jonk en vars op die oor val.

Liriekskrywers het al in verskillende musikale genres oor blomme geskryf; die sonneblom het meer as eenkeer sinoniem met Afrikaner jolyt en vreugde geword, die roos het ’n simbool van die dood en natuurlik, romanse geword, en volgens Koos Kombuis is sommige blomme gelykstaande aan genot.

Maar die Protea, wat ook Suid-Afrika se nasionale blom is, het nog nooit die eer gehad om in die liedjiefabriek vervaardig en in die argief van herinneringe gestoor te word nie.

En juis om die rede het die jong sangeres dié blom die hoofkarakter in Protea  gemaak.

“Ek het die idee vir die liedjie gekry omdat daar júís so baie liedjies oor die sonneblom is,” lag Annerine.

“Ek het altyd gewonder hoekom daar nie ook oor ander blomme geskryf word nie. Ek het toe begin dink aan ander blomme waaroor ek kan skryf en nadat ek oor die Protea navorsing gedoen het, het ek besef dat die Protea in baie opsigte ook ’n liefdesblom is.”

“Net soos die Protea wat weer kan groei nadat dit in ’n brand vernietig is, kan jou hart ook weer genees; al voel dit moontlik soos ’n harde, swart klip in jou binneste. As die Protea uit die as kan groei, kan jou hart ook “weer groen” word en jy kan ook weer lief hê.”

Dit word ook uitstekend verwoord in een van die versreëls… Jy het my hart tot swart gebrand, maar uit my blom ’n grasgroen oes…”

Máár die snit handel oor baie meer as net ’n gebroke hart; dit vertel die universele verhaal van verskillende vorms van gebrokenheid. Vriendskappe wat tot niet kan gaan, familiebande wat in stukkies gebreek kan word of self  om ’n geliefde aan die dood af te staan.  

Die snit is ook vir haar baie persoonlik, want sy het dit geskryf nadat sy self ook die pyn van ’n liefdesteleurstelling ervaar het.  “My hart was so stukkend. Ek het regtig gedink dit is die einde, maar ek het besef dat ’n mens nie maklik aan ’n gebroke hart dood gaan nie en ek moes ook weer opstaan. ’’

“Dit is ook wat ek mettertyd besef het … “hierdie is nie my einde nie, uit my groei ’n grasgroen oes….’’

Annerine het Graad 12 aan die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria voltooi, maar het besluit om die jaar ’n “bietjie af te vat” voordat sy besluite oor haar toekoms neem.

Sy het ook sendingwerk in Kenia gedoen, hou haar lyf soms model en werk ook as deeltydse kelnerin in ’n koffiekroeg.

Sy is ook besig om in een van die land se bekendste TikTokkers te ontpop en het al meer as 52 000 aanhangers.  Een van haar video’s het meer as 7 miljoen unieke kyke gekry. “Ek het in 2020 begin om kort video’s te maak en het die afgelope drie jaar al hoe meer aanhangers bygekry.’’

“My  video’s handel oor niks spesifieks nie; my aanhangers kan met die video’s vereenselwig omdat ek sommer net myself is,’’ vertel sy.

Annerine, wat sedert haar laerskooldae haar stem by kunswedstryde en op skoolverhoë laat hoor het, het ’n volryp, diep stem. ’n Mens kan duidelik hoor dat haar stem afgerond is.

 Dit is te danke aan die afrigting van die Pretoriase sangonderwyseres Jolanda Becker wat haar stem tot amper-perfeksie gelooi en geslyp het.

Protea is enersyds ’n diep snit, maar besit andersyds ook die pret-bekoring van ’n jong volwassene. Nie net jeudiges nie, maar ook volwassenes sal aanklank by die snit vind.

Protea is vervaardig en opgeneem deur Tjaart van der Walt.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *