Vanuit sy Sinkhuis in Cullinan kook, sing, bak en brou die geliefde televisiepersoonlikheid Willie Strauss dat die bakpoeier trek. Hy is gebore op die plaas Vyfbeker in die Kenhardt distrik, Noord-Kaap. Hy het sy Nasionale Diploma in Uitvoerende kuns by TUT behaal.
Wanneer ‘n mens woorde soos sanger, koskenner, akteur, liedjieskrywer, sinkstoor, langtafel en myndorp bymekaar gooi is die antwoord Willie Strauss.
Hy toer vanaf 9 September 2023 na die Kaap met sy eerste optrede in Richmond. Sy laaste optrede is 17 September 2023 by Ons restaurant op Simonsvlei wynplaas.
Fiesta, Bravo, Erfkos, Glitterati, Geraas en meer onlangs Boere-Diva en DeKat TV is van die programme waarop hy al ‘n gas was. Hy was die mede aanbieder van Kos is oppie Tafel op ASTV.
Willie Strauss is wel meer bekend vir sy kuiers op RSG, eers saam met Amore Bekker en nou Eloise Cupido, elke tweede Maandag oggend. Hier kleur hy elke luisteraar se wêreld in met kos en sorg ook dalk jy lekker lag.
“Om kos te maak is vir my soos om ‘n brief te lees van iemand wat jy lanklaas van gehoor het. Die opwinding van die wit Croxley-koevert in jou hand is die nuwe resep wat jy eenvoudig net moet toets; die lees van die brief van die wit lyntjiespapier is die voorbereiding van die kos.”
Sy kookboek Daar is ‘n Engel in die koskas het baie aandag geniet en is nogsteeds beskikbaar by sy aanlyn winkel. Die kookboek is nie net ‘n resepte boek nie, dis ‘n storie oor kos en ver meer gepas vir die koffietafel as die kombuis rak.
KOS, SING & STORIES is ‘n samevatting van wie en wat Willie Strauss is. Hy is kos, hy is musiek maar hy is beslis vol stories. Die vertoning is ± 65min lank en word aangebied saam met sy begeleier Henry-John Williams op klavier. Hy sing van sy eie liedjies (wat al nommer een posisisies behaal het op radio), vertel en lees stories voor en deel ‘n wonderlike resep of twee om self by die huis te beproef en jou geliefdes te bederf.
Willie sing oor kos – kook oor die liefde – lag oor die mensdom en vertel oor die lewe, net soos hy kan.