Donkerblou handel oor die dieper kant van menswees.

Skaars vyf maande nadat die sangeres Anneke Coetzee met haar debuutenkelsnit, Dit voel dit reën, die musiekmark binne gepop het, is sy terug met nog ’n enkelsnit waar die kleur donkerblou sinoniem word met emosies soos liefde, angs, ontsettend, verlorenheid, maar ook geluk en vreugde.
Die snit Donkerblou handel oor die dieper kant van menswees, en die verskillende skakerings van die see word ook in die opsig ’n metafoor van menslike teenstrydighede; dit word gelykgestel aan die dieper en ligter kant wat in elkeen van ons skuil.
“As die see se kleur donkerblou is, weet jy dat daar ’n anderste diepte op die spesifieke dag aan water, aan die gety se kom en gaan is. Die liedjie handel dus oor om jou dieper kant met mense te deel of dalk ook iemand anders se dieper kant te ervaar en raak te sien.”
Anneke het sedert haar toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf vinnig naam gemaak met haar bykans kinderlike soetsopraanstem. Sy verklap dat sy sedert die uitreiking van haar eerste enkelsnit musikaal baie gegroei het.
“Ek het baie meer gemaklik en selfversekerd geraak met my eie stem. Dit was die eerste keer dat ek die vrymoedigheid gehad het om my musiek met mense te deel. Dit was ’n baie persoonlike reis. Die terugvoer was so oorweldigend dat ek ook gemakliker geraak het met die skryfproses. Die musiek en lirieke van Donkerblou het in soveel opsigte net makliker gevloei.”
Beide haar snitte is deur gedigte geïnspireer. “Dit voel dit reën is ook op ’n gedig gegrond. Ek en ’n digter-vriendin het gesels oor die manier waarop my lirieke skryf en sy het toe haar handgeskrewe digbundel nadergetrek en daardeur begin blaai.”
“Haar oë het op ’n gedig wat handel oor die oseaan en haar verskillende skakerings geval. ‘Kyk of jy iets hiervan kan maak,’ het sy gesê. Só is die enkelsnit Donkerblou gebore.”
Luisteraars sal dié snit ook dadelik assosieer met water. Die inleiding van Donkerblou herinner aan waterdruppels wat teen ’n ruit streep. Water word in die opsig ook as ’n simbool van menswees aangewend.
Anneke het voorheen gesê dat haar lirieke en musiek die tydstip waarin sy haar in haar lewe bevind weerspieël. Sy het Dit voel dit reën tydens haar studentejare aan die Universiteit van Stellenbosch geskryf. Nadat sy haar graad in musiek voltooi het, het sy op die Suid-Kaapse dorp George ’n musiekskool begin.
“Dit voel eintlik vreemd om na my eerste enkelsnit te luiter, want ek was in ’n anderste seisoen in my lewe. Ek was baie deurmekaar en ek het nie geweet wat die volgende jaar vir my sou inhou nie. Ek is nou baie meer seker van waar ek in die oomblik is en wat die toekoms vir my inhou.”
Musiek was seker maar nog altyd in Anneke se bloed, want die klavier is al van kleinsaf haar minnaar. Hoewel sy glad nie daarvan hou om voor mense te praat nie, is sy glad nie skaam as sy op die verhoog moet sing nie.
Sy het al die verhoog met groot name soos die van Jan de Wet, Elvis Blue en Karlien van Jaarsveld gedeel, en het ook die hoofrolle in verskeie operettes en musiekblyspele gespeel.
Anneke beskryf dié snit as ’n doodgewone popliedjie, maar daar is soveel meer vleis aan die lirieke. Dié snit kan beskryf word as ’n fyn luisterliedjie wat die luisteraars op ’n manier anders na die wye oseaan en sy verskillende skakerings sal laat kyk.