“As plan A nie uitwerk nie, is daar steeds 25 ander letters in die alfabet oor waarmee jy plan A kan laat werk,” sê Henck Conrey

Die gewilde Pretoriaanse akteur, vervaardiger, regisseur, inhoudskepper, kunstenaar en entrepreneur, Henck Conrey, is onlangs benoem vir ’n kykNET Silwerskermfees-toekenning as beste aanbieder van ’n leefstylprogram vir Vat Jou Goed en Trek op kykNET (kanaal 144).

Hierdie inspirerende 36-jarige, met groot drome en ’n goeie hart, kom oorspronklik van Port Elizabeth in die Oos-Kaap, waar hy in 2005 sy matriek aan Hoërskool Framesby voltooi het. Daarna het hy van 2006 tot 2010 by Nelson Mandela Universiteit (voorheen bekend as Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit) studeer. Ten spyte van sy passie vir drama, het hy ’n regte geswot omdat sy ouers daarop aangedring het dat hy ’n behoorlike kwalifikasie agter sy naam moes hê.

Terwyl hy studeer het, het hy ook as model gewerk en dit was gedurende hierdie tyd wat hy besluit het om die raad te volg van ’n regisseur, wat hy gedurende ’n fotosessie ontmoet het, om in te skryf vir aand-dramaklasse by Marlene Pieterse. So het hy die geleentheid gekry om ook sy passie vir toneelspel uit te leef.

In die finale jaar van sy studies, het sy lewe onherroeplik verander nadat ’n vriend se ma hom aangemoedig het om aan ’n kompetisie deel te neem waarin hy ’n rol in Bay City kon wen. Hy het toe nie net die kompetisie gewen nie, maar sy paaie het ook met die akteur en regisseur, Reynardt Hugo, gekruis wat vir hom baie deure oopgemaak het.

Hy het die geleentheid gekry om vir een van die land se grootste talentagentskappe ’n oudisie te doen, waarna hy met hulle ’n kontrak geteken het en besluit het om na Johannesburg te verhuis. ’n Paar dae na sy aankoms in Gauteng, het hy ’n rol losgeslaan in die gewilde Afrikaanse sepie, 7de Laan.  

“Ek beskou my toetrede tot die vermaakbedryf, waarvan ek nou al 13 jaar deel is, as ’n ingryping van bo en glo dat jy nie die bedryf kies nie, maar dat dit jou kies,” sê hy.

Vandag spog Henck met ’n indrukwekkende lys suksesvolle projekte op sy kerfstok. In Oktober 2023 sal Seisoen 10 van Vat Jou Goed en Trek, waarvan hy die vervaardiger en aanbieder is, op kykNET uitgesaai word. Seisoen 5 van nog ’n projek waarby hy as regisseur en aanbieder betrokke is, Dr Nou, sal in November 2023 op VIA te sien wees. In die tussentyd is hy aktief deel van die regie en produksie van Seisoen 9 van SABC 1 se Reno Race, en is hy as vervaardiger en deelnemer betrokke by die eerste seisoen van die fiksheid-program, Fiks of Niks, wat vanaf Oktober 2023 op kykNET gaan wees. Verder is hy ook ’n lid van die Afrikaanse popgroep, MAN.

Sy skedule vir 2024 is net so besig, met nuwe seisoene van al sy programme wat reeds in die pyplyn is, en hy beplan ook om 10 jaar van Vat Jou Goed en Trek te vier met die vrystelling van ’n koffietafelboek.

Asof dit alles nie genoeg is nie, is Conrey ook ’n ernstige besigheidsman en entrepreneur. Na twee jaar van toneelspel, het hy saam met sy sakevennoot Richard Opperman ’n produksiemaatskappy, RichCON, begin. Hulle besit ook verskeie ander besighede: ’n eiendomsagentskap genaamd REALty en ’n konstruksiemaatskappy genaamd Warriors of Construction. Saam met ’n derde vennoot, Lizahn Bester, bestuur hulle ook Redhead Productions, ’n teatermaatskappy wat opvoedkundige optredes by skole regoor die land aanbied.

“Dis moeilik om te kies van watter aspek van my werk ek die meeste hou en ek is geseënd om te doen waarvoor ek lief is. Hoewel ek voor die kamera die geleentheid kry om my drome, talent en passie uit te leef, is dit net so lonend om agter die skerms op die besigheidsaspekte te fokus,” verklap Conrey.

Hy volg ’n alles-of-niks benadering en probeer om die wêreld om hom beter en mooier te maak terwyl hy sy droom uitleef. Geen van die programme wat hy vervaardig is gebou op sensasie nie, maar om diegene om hom te help en op te hef en hulle aan te moedig om hul drome na te streef. Dit is beslis die geheim van sy sukses, asook om te besef dat niks maklik kom nie en om die raad van Warren Buffet te volg – om altyd veelvuldige inkomstestrome te hê.

Die kykNET Silwerskermfees-toekenningseremonie vind op 27 Augustus 2023 plaas.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=100044426000593

Instagram: @henckconray

TikTok: https://www.tiktok.com/@henckconrey?_t=8dsAAcHhfSX&_r=1

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *