Dit is Maandag, Dinsdag, Woensdag, Donderdag en dan is dit naweek….

Dit is Maandag, Dinsdag, Woensdag, Donderdag en dan is dit naweek….

…Tequila in die hand… ons kuier tot die son opkom. Dis naweek…,” sing die mooi blonde Suid-Kaapse sangeres Amoré, wat ook met dié snit haar amptelike toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf maak.

Dié snit, wat herinner aan die blou-en-geel-flitsligte, dansvloer en elektroniese popmusiek van die tagtigerjare, lui ook  ’n nuwe era in Afrikaanse popmusiek in. Dit is ’n mengelmoes van elektroniese klank en eg Suid-Afrikaanse ritme.

As  ’n mens dit met kleure kan vergelyk is dit helderblou, sonskyngeel en gilgroen. Dit is dansmusiek wat in elke kuierkroeg en braaivleisvuur gespeel behoort te word.

Amoré is ’n milleniër wat  in die negentigerjare gebôre is en groot geword het. Daarom verstaan sy ook presies in watter genre sy moet sing om die nuwe generasie musiekliefhebbers se voete aan die gang te hou.

Sy vertel dat sy al op sesjarige ouderdom begin sing het en het sommer altyd geweet dat haar pad na die vermaakbedryf vir haar beplan en uitgelê is. “Ek is tydens my grootword jare aan verskeie musiekgenres blootgestel. Ek is mal oor die tagtigerjare se musiek en ek dink dit is ook die tipe musiek waarmee ek die  gehoor op hul voete hou.”

Sy het al op verhoë regoor die land opgetree en het ook al die verhoog met sangers soos Ryno Velvet, Juan Boucher en Byron Minnie gedeel.

Haar musiek word grootliks geïnspireer deur Celine Dion en Shania Twain. “Hulle het my nie net aan pop- en countrymusiek bekendgestel nie, maar ook aan lirieke wat stories vertel. Dit is vir my ’n baie belangrike aspek van liedjies; dit moet ’n storie element bevat. Ek glo ook dat liedjies die menslike natuur moet kan beskryf.’’

Sy het Dis naweek saam met Darryl de Lange geskryf en dit kan die nasionele volkslied van alle naweek-kuiers word.

Dit vertel die storie van ’n samekoms van vriende oor ’n naweek. “Ons almal maak ons soms skuldig daaraan om die werksweek verby te wens sodat ons net kan naweek hou en die hare los maak,” vertel Amoré, “daarom is die liedjie ook geïnspireer deur dáárdie motief.”

Die snit herroep die gevoel van vlinders op jou maag, van litte losmaak op die dansvloer en musiek wat kliphard in jou ore speel.

Met dié snit bewys Amoré dat sy haar musiekskoene goed kan volstaan. Die snit is opreg en vars en sal byval by alle pop- en dansmusiekliefhebbers vind.

Die snit is deur Darryl de Lange van Musicology Recording Studio opgeneem, verwerk en vervaardig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *