Die Afri-Indie genomineerde sanger Egmond is wéér terug op die radiospeellyste met ’n soeter-as-soetse koeksister-treffer, Ongelooflik, waarmee hy weer bewys dat kuns soms die versinnebeelding van die werklike lewe kan wees.
Net soos met sy vorige enkelsnit, Pyn, het hy musiekkragte saam met die Australiese sangeres Kaley McCormack gesnoer en die resultaat is psigideliese pop met ligte elektroniese klanke en speelse lirieke wat die luisteraar op die rand van die bewuste en die onderbewuste laat.
Kaley, wat nie ’n woord Afrikaans kan praat of verstaan nie, het die lirieke foneties geleer en sy klink so Afrikaans soos ’n tannie wat koeksisters op ’n boeremark verkoop.
Die snit is ook vanaf sy jongste album Koeksister-pop, wat hy vroeër vanjaar op sy verjaarsdag uitgereik het. Hy beskryf die album, wat uit twintig snitte bestaan, as “’n versameling van die grootste treffers wat die afgelope twee dekades uitgereik is.’’
Egmond se lirieke is diep, dit kan die luisteraars soms beangs laat, maar terselfdertyd ook laat wonder oor die lewe en al sy fasette.
Ongelooflik is egter ’n ligter snit wat handel oor ’n aanhanger se absolute fasinasie met ’n bekende sanger. Dit spot ligtelik met die vermaakbedryf en die valse skyn wat roem soms kan meebring.
Egmond het die snit reeds in 2008 geskryf. Hy het dit in 2012 as ’n remix uitgereik. Hy is baie goeie vriende met Sandy Robbie, voormalige lid van die popgroep Clout. En Sandy was weereens verantwoordelik vir verwerking van Ongelooflik. “Hy het die snit soos ’n taai tammeletjie ontkoek en dié deeg (die lirieke) inmekaar gevleg soos dit ’n ordentlike koeksister betaam,“ vertel Egmond.
Egmond, wie se musiekloopbaan op ’n skoolverhoog in Bela-Bela in die Limpopo-provinsie begin het, verduidelik dat Ongelooflik een van die beste snitte is wat hy al neerge-ink het. “Wat die snit so uniek maak, sê hy, is die feit dat hy twee bekende radio-omroepers, Anne-Marie Burger van Radio Overberg en Ian Müller, van JouStasie, se stemme ingespan het om “die bekende sanger aan te kondig.’’
“Die snit is ook ’n metafoor van my lewe in die kollig,’’ sê Egmond. Die intreereël van die eerste vers beskryf ook die voorbladstorie oor jou gesing…
Egmond het ook ’n musiekvideo van die snit gemaak wat uit beeldmateriaal van sy optredes, ateljeeopnames, internasionale koerantuitknipsels en voorblaaie van die afgelope twee dekades bestaan. Kaley wys ook gesig in die musiekvideo.
Egmand se gunsteling suikersoetversnappering is sy ouma se koeksisters en dit is seker ook waarom die vermaakwebwerf Channel 24 na sy musiek as koeksister-pop verwys het.
Hy put sy musikale inspirasie uit stories met ’n sterk (of slim) einde. “Karakters wat sterker aan die einde van hulle reis is, laat my glo dat daar vir almal hoop is.’’
Ongelooflik is ‘n radiovriendelike popliedjie wat by jonk en oud byval sal vind. Egmond se stem is baie veelsydig en soos hy met sy ander snitte bewys het, kan hy in enige genre sing.
Egmond is verfrissend en anders; ’n rare koeksister (sonder die stroop) in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.