Candy is terug! En deur die jare het haar stem suiwerder geword en meer volwasse.

Die afgelope twee jaar is die sangeres Candy Benson deur die hel; sy het haar pa aan die dood afgestaan, sy het self erge Covid-19 oorleef, en kon vir ’n lang periode glad nie sing nie.

Maar Candy is terug! En deur die jare het haar stem suiwerder geword en meer volwasse.

Haar nuutste enkelsnit, Net oor jou, is ’n bewys van haar suiwer stem en die lirieke het pragtige popdiepte.

Candy het in haar vorige twee enkelsnit, 7 Dae in die Somer en Hy sal jou dra haar stryd teen die Covid-19 virus, die pyn van die dood van ’n geliefde goed verwoord. Hoewel sy nie ’n gospelsangeres is nie, word temas van God se liefde en genade sterk in al haar liedjies verteenwoordig.

Net oor jou is ’n liefdespopliedjie wat die storie van ’n verbreekte verlowing vertel (ja, Candy het ook gedurende haar stryd met Covid-19 haar verlowing verbreek.)

Dié snit is deur Vincent Gordon geskryf. Hy het die liedjie vir Candy aangestuur en nadat sy daarna geluister het, het sy ’n emosionele band met die liedjie gevorm. “Ek het ’n paar veranderinge aangebring en tydens die opnameproses het ek gevoel asof die snit uit my eie hart en pen gevloei het.”

Net Oor Jou handel oor iemand wat seergekry het en daarom hoë mure om hul harte gebou het. En daarom kan hul niemand meer met hul hart, vreugde en pyn toevertrou nie.

Maar daar is altyd weer liefdeshoop; ’n spesiale persoon kan weer op jou lewenspad verskyn, dáárdie mure afbreek en jou weer laat glimlag. Die nuwe person aanvaar die persoon met al hul seer en die lewe huppel weer.

Dié boodskap wat Candy aan die luisteraars wil oordra is dat almal soms seerkry. “Ons is maar net mense, ons wantrou, ons is bang om weer seer te kry, maar ons moet onsself weer ’n kans op geluk en die liefde gun.”

Net oor jou is wel ’n lekker dansliedjie, maar dit dra ook ’n postiewe boodskap aan luisteraars oor. Dit is ook wat Candy met haar musiek wil bereik.

Candy is dié jaar al bykans drie dekades in die musiekbedryf doenig en sy het een van die bekendste sangeres  in ons land geword. Sy was net drie jaar oud toe sy vir die eerste keer haar mondjie oopgemaak en begin sing het. ’n Youtube-video waarop sy, as kleuter, I will always love you, sing het al verskeie unieke trefslae gekry.

Candy het nie die afgelope paar maande, sedert haar laaste enkelsnit uitgereik is,  stil gesit nie. Sy sing weer die verhoë regoor die land aan die brand, en sy is ook besig om ’n boek oor haar reis met Covid-19 te skryf.

Net oor jou is ’n warm dansliedjie wat jou voete gaan laat jeuk, maar jou ook dieper laat dink oor wat die liefde en tweede kanse werklik beteken.  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *