OPPIEKITAAR – ‘N JANNIE DU TOIT PRODUKSIE

Jannie du Toit beplan om sy nuwe produksie getiteld OPPIEKITAAR op 25 Junie 2023 in die Atterbury Teater in Pretoria bekend te stel. Hy bied die program aan in die formaat waarin die luisterpubliek hom in die laat sewentigerjare vir die eerste keer as solo-sanger leer ken het – net met sy kitaar en beplan om die program oor die volgende jaar of twee landswyd aan te bied. Gedurende die vroeë sewentigs was hy lid van die Afrikaanse folk-groep TRILOGIE, maar later in dié dekade was hy meestal alleen met net sy kitaar op die verhoog – en hy het uitsluitlik sy eie liedjies gesing. So was dit ook in die Laager van die Markteater in Pretoria sedert die heel eerste MUSIEK EN LIRIEK-konsert in April 1979 en ook by sy “Liedjie-aande” in Margaretastraat in Pretoria.

Intussen het hy hom met uiteenlopende musiek besig gehou – benewens sy eie werk het hy liedjies van sy helde en sy vriende gesing: Koos Doep, Brel, Lucas Maree en talle andere. Hy het verwerkings vir ‘n groot orkes as begeleiding vir sy musiekblyspele in die 80’s geskryf, jare lank saam met Christa Steyn by die klavier musiek gemaak in kabaret en ander genres en selfs koorverwerkings vir liedjies soos GEE ONS VREDE geskryf. Oor die afgelope dekade werk hy saam met instrumentaliste en sangers van die hoogste orde in ‘n verskeidenheid produksies wat steeds landswyd aangebied word.

In sy program OPPIEKITAAR speel hy weer soos in die sewentigs net die kitaar as begeleiding en sing net sy eie liedjies. Dié program is ‘n keur uit die talle liedjies wat hy oor die afgelope halfeeu geskryf het – ‘n verrassend wye verskeidenheid van meer en minder bekende liedjies waarin vrolikheid en nostalgie afgewissel word. Sy liedkuns word deur die jare gekenmerk deur keurige tekste, vindingryke akkoordgebruik en, nou meer as ooit tevore, deur sy bedrewenheid op die kitaar. Sy liedjies is gemik op die fynproewer, maar soos ‘N LIEDJIE VIR JOU van 1978 reeds bewys het, lê sy woorde en akkoorde lekker op die “gewone” oor.

Oppiekitaar word met trots aangebied in samewerking met Pretoria FM.

Besprekings kan by die volgende skakel gedoen word

https://www.seatme.co.za/tc-events/jannie-du-toit-oppiekitaar/

Alternatiewelik, bel Stefanie gedurende kantoorure – 09h00 tot 16h00 op weeksdae by 012-942-5951. Sy sal vir kaartbesonderhede vra en dan met die bespreking help. Atterbury Teater gee die versekering dat jou kaartbesonderhede veilig sal wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *