Hulle is nuut, opwindend en so luidrugtig soos ’n plektrum wat oor ’n kitaarsnaar getrek word…

Ondersteuners van harde Afrikaanse rock-musiek (en natuurlik ook die gewese MK 89-generasie) se wind is die afgelope paar maande behoorlik uit hul seile geneem met die toetrede van Gideon Wind tot die Afrikaanse musiektoneel.

Dié groep van Germiston, wat bestaan uit Liean Erasmus, Heinrich Eksteen en  Christo Barnard, het verlede jaar Junie vir die eerste keer hulle verskyning by die Rumors Rock City-kuierkroeg in Westgate in Roodepoort gemaak, en sedertdien het dié groep die musikale rubrikon oorgesteek.

Dit is nie net die Johannesburgers wat bewus geraak het van Gideon Wind nie. In Pretoria loop die naam op Twitter en Instagram soos volborstige duiwe op kerkplein. Selfs in Hartebeespoortdam, by Dozi se Back to the roots, het dié drie manne die gehore op hulle voete gehad.

Hulle is nuut, opwindend en so luidrugtig soos ’n plektrum wat oor ’n kitaarsnaar getrek word…

Tog, is hulle ook trots Afrikaans met loslip woorde soos like en girl wat té lekker op die Afrikaanse oor val.

En maak ook nou amptelik hul toetrede tot radiospeellyste met Bokkie (en nee, dié bokkie het niks met die Springbokke of bosveldbokkies te make nie).

Gideon Wind het in April vanjaar hulle eerste sesnit-verlengde speeltyd album op die sosialemediaplatforms en die internet bekendgestel en die liedjies is binne dae honderde kere gestroom.

Bokkie is een van hulle eerste alleenstaande enkelsnitte en die  groep beskou dit ook as  “ons eerste en vir nou enigste, liefdesliedjie.’’

Maar moenie dink dit is ’n liefdeslied wat oor die pyn en hartseer van verlore liefde handel nie.

Dié liedjie, wat ook ’n groepskryfpoging was, vertel die storie van opofferings wat ons almal soms vir die liefde moet maak.

Dit gaan oor ’n girl en haar ou wat nie altyd dieselfde belangstellings deel nie.

“Julle weet mos, sê Heinrich, wat ook die voorsanger van die groep is, ouens vind hulself gereeld by ’n craft market of ’n plek wat hulle nou glad nie interesseer nie, terwyl die girls soms nie na hulle sepies kan kyk nie, want die manne se oë is op die sportkanale gevries.“

“Maar ongeag die band wat tussen twee mense bestaan,  is sommige dinge maar net ’n dealbreaker,’’ meen Heinrich. “Soos Meatloaf gesing het: ‘I will do anything for love, but I won’t do that…”

Ja, ’n man sal nie sy rugbygleuf opgee vir ’n uur se sepiegenot nie…

Heinrich se grinterige stem herinner aan die van Jan Blohm en die lirieke is pasknap vir die gruis waarmee hy deur die note sny.

Liean speel die baskitaar en Heinrich is op die elektriese kitaar. Christo is die groep se dromspeler.

Gideon Wind het ’n klein onafhanklike platemaatskappy, Kleindorp Records, waar hulle ook self die liedjie opgeneem, verwerk en vervaardig het.

Bokkie is ’n prettige harde rock snit wat by rock-ondersteuners sal byval vind, maar meer popmusiekaanhangers sal ook van die lirieke en musiek hou; jy kan op die liedjie kop skud asof jy in die middel van ’n mosh pit staan, of jy kan jou meisie vasgryp en ’n rockerige langarm daarop doen.  

Gideon Wind is ’n aanwins vir die Afrikaanse rockmark en sal binnekort ’n groot gevolg hê.

One thought on “Hulle is nuut, opwindend en so luidrugtig soos ’n plektrum wat oor ’n kitaarsnaar getrek word…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *