Nicholis Louw – Coco Pops en Kaas

Dit bly ’n kunsvorm op sy eie om verskillende smake met mekaar te versoen. Partymaal kom hierdie smake uit kossoorte wat jy normaalweg eerder nie saam op een bord sou sit nie.

Daar is egter altyd daardie een persoon wat die waagmoed het om tog hierdie onbekende terrein van smake en teksture te ondersoek. Soms is die gekombineerde smake aaklig, maar soms is dit absoluut hemels. 

In sy nuwe lied COCO POPS EN KAAS sing Nicholis Louw oor hierdie verskynsel en trek hy die metafoor deur na sy verhouding met sy vrou. Die lied vertel hoe onwaarskynlik sukses tussen twee uiterstes is, maar hoe dit tog kan saamwerk om iets beter te skep as wat die twee afsonderlik bied.

Louw verduidelik dat ’n nostalgiese tyd in sy lewe COCO POPS EN KAAS geïnspireer het. “Dis ’n ongelooflike kombinasie. COCO POPS EN KAAS was nog altyd my gunstelingontbytkos.” 

Die lied sinspeel verder op vreemde koskombinasie wat veronderstel is om afstootlik te wees, maar waarvan die gekombineerde smaak voortreflik is.

Nicholis het die self die lied geskryf en die verwerking is behartig deur Robin Kielly. Die opgewekte lirieke, melodie en verwerking sal jou vinnig laat saamsing en (soos net Nicholis Louw se musiek kan) jou aanpor om op te spring en te dans.

Louw het vir seker geen bekendstelling nodig nie en is een van ons land se mees diverse sangers. Hierdie nuwe lied is deel van sy oorgang na die countrygenre. Alhoewel daar ooreenkomste met sy vorige musiek is, sal die lied sy bestaande aanhangers begelei tot sy nuwe klanke.

Hy verduidelik dat hy sy musikaliteit uitbrei deur na ’n verskeidenheid kunstenaars uit verskillende genres te luister en dat sy musiek veral beïnvloed word deur musikante soos Don Williams, Andrea Bocelli, Garth Brooks, Kenny Rogers en Placido Domingo.

Al trek jy jou neus op vir suiker op roosterbrood, of piesang en kaneel, sal jy hou van dit wat jy hoor met Nicholis Louw se COCO POPS EN KAAS.

Met meer as 10 albums op sy naam en verkope wat lankal reeds die halfmiljoenmerk verbygesteek het, beloof COCO POPS EN KAAS om spoedig nog ’n treffer te word.

COCO POPS EN KAAS is nou beskikbaar op alle digitale musiekstromingsdienste.

Luister dit hier: https://linktr.ee/nicholislouw

Kyk die video hier: https://youtu.be/kqr7n-n5uSg

SOSIALE MEDIA

Facebook:  https://web.facebook.com/nicholis.louw.7

Instagram: https://www.instagram.com/nicholis_louw

Twitter: https://www.twitter.com/NicholisLouw

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *