Esmé Fox stel nuwe enkelsnit, Misgeloop vry.

Het jy al ooit gewonder wat kon wees as jy net ‘n kans op liefde geneem het? Misgeloop geskryf deur Johan Vorster, Jacomien de Wet, en Esmé Fox vertel die storie van twee mense wat mekaar ontmoet het, ‘n sterk konneksie gedeel het en byna onmiddellik verlief geraak het. Of dit weens omstandighede, vrees of ander struikelblokke was, het hulle toe nooit bymekaar uitgekom nie, en smag nou oor ‘n afstand na mekaar.

“Ek het Misgeloop gekies oor ek glo dat die lirieke, asook die onderliggende temas van liefde en verspeelde geleenthede wat daarin teenwoordig is, iets is waarmee baie mense, insluitend myself, kan vereenselwig. Vir my verteenwoordig dit die idee dat die lewe vir ons verskeie goeie geleenthede bied, maar indien ons nie hierdie geleenthede koester en najaag nie, mag hulle ons dalk net verbygaan. Verder is dit ‘n herinnering dat liefde, selfs al is dit dikwels pynlik en ingewikkeld, ‘n fundamentele deel van die menslike ervaring is, en dus moet ons altyd oop wees vir die moontlikhede wat dit kan bied”

Esmé Fox voel mense gaan vir verskeidenheid redes van Misgeloop hou. Eerstens glo sy dat die liedjie se treffende lirieke en die emosionele temas wat in die liedjie se storie oorgedra word, wat die gevoel van verlange en spyt oor gemiste geleenthede behels en ‘n universele gevoel is waarmee baie mense kan vereenselwig.

My persoonlike lewenservaringe, emosies en gevoelens is dikwels die inspirasie vir sekere onderwerpe en temas waaroor ek skryf en sing. Die genre en styl word dan meestal beïnvloed deur die onderwerp of tema van die liedjie. Ek vind wanneer ek skryf oor iets wat ek persoonlik ervaar het, of dit nou ‘n uitdagende of ‘n vreugdevolle ervaring was, dat die musiek en woorde makliker vloei en ‘n meer opregte gevoel oordra. Boonop is dit ook ‘n manier vir my om my emosies en gevoelens te verwerk en ek hoop deur dit met ander mense te deel dat dit hulle sal help om hul eie emosies en gevoelens oor soortgelyke ervarings te verwerk”

Die musiekvideo is gebaseer op die storie en konsep van die liedjie en is deur Gerhard van Rooyen van Spheratical Productions verfilm. Die video is op verskeie plekke in Stellenbosch en Franschhoek in Kaapstad verfilm en is anders as die gewone musiekvideo’s wat in Suid-Afrika vervaardig en verfilm word omdat dit CGI-tegnologie (Computer-Generated Imagery) inkorporeer.

Een van die lesse wat die musiekindustrie Esmé geleer het, is dat harde werk, toewyding en volgehoue inspanning noodsaaklik is om suksesvol te wees. Om ‘n musikant of sangeres in die bedryf te wees, moet jy gereed wees om lang ure te werk, persoonlike opofferings te maak en voortdurend te leer en te groei. Boonop is die vermoë om jouself te bemark en jou persoonlike handelsmerk te bevorder, sowel as die vermoë om suksesvolle verhoudings met ander mense in die bedryf te bou, van kritiese belang vir jou sukses.

Luister Misgeloop hier – https://EsmeFox.lnk.to/Misgeloop

Meer oor Esmé

Esmé is gebore en getoë in die Kaap. Haar ouers het vroeg al haar sangtalent en passie vir musiek raakgesien en het haar op die jong ouderdom van 4 vir sanglesse ingeskryf. Kort daarna het sy vir die eerste keer die verhoog betree. Daar het ‘n vonk in haar passie vir optrede ontstaan wat onmiddellik vlamgevat het en kort voor lank soos ‘n veldbrand in haar wese versprei het.

Gedurende haar skoolloopbaan in Durbanville, een van Kaapstad se noordelike voorstede, het sy talle geleenthede gehad om haar talente verder te ontwikkel en haar passies uit te leef. Met ‘n behoefte om te vermaak en die verhoog haar blyplek te maak, het sy gereeld aan sangkompetisies, Eisteddfods, en verskeie produksies by die skool en by die kerk deelgeneem.

Verder het sy ook in 2010 die geleentheid gekry om die land plat te toer met die tienertoneelstuk en musiekblyspel, Gly, wat deur Hennie van Greunen en Pedro Kruger vervaardig en geregisseer is.

Na skool het sy haar Baccalaureusgraad in Drama en Uitvoerende Kunste aan die Universiteit van Stellenbosch aangepak en in 2016 voltooi. Daarna het sy besluit om nie slegs voor nie, maar ook agter die skerms in die filmbedryf te werk. Gedurende hierdie tyd wat sy hoofsaaklik gewerk het as ‘n kunsdepartement-koördineerder en rekwisietmeester vir advertensies behartig het, het sy haar liefde vir bemarking ontdek. Dus het sy in 2021 my Baccalaureusgraad in Besigheidsadministrasie, gefokus op bemarkingsbestuur, by IMM Graduate School voltooi. Sy werk tans hoofsaaklik as ‘n Digitale Bemarkingspesialis en tel ‘n rits formidabele figure onder haar kliënte.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *