Dit voel dit reën – ’n Lekkerluisterliedjie van Anneke Coetzee

Anneke Coetzee,  ’n 23-jarige sangeres van George in die Wes-Kaap,  debuteer dié maand met ’n liefdesballade, Dit voel dit reën, wat haar generasie (die sogenaamde generasie Z) se woede, liefde, pyn, en die stryd met die lewe en sy seer in haar musiek verwoord.

“Ek is nou op die ouderdom waar alles maar ’n bietjie deurmekaar is. Die een helfte van my vriendekring studeer nog, en dié ander helfte het al voor die kansel gestaan. My musiek en lirieke is ’n goeie spieëlbeeld van waar ek nou in my lewe is; dit is makliker om deur al dáárdie dinge te werk as jy dit kan neerskryf en daaroor sing,“ vertel Anneke,  wat nou ook vir die eerste keer haar hand aan lirieke gewaag het.

Sy voel dat Dit voel dit reën haar pennetreffer is; die eerste liedjie wat sy in Afrikaans geskryf het. “Ek was eintlik ’n bietjie bang om in Afrikaans te skry, ek het maar altyd net in Engels geskryf;   Dit voel dit reën het  egter sommer net uit my pen gevloei. Ek gaan beslis meer op die Afrikaanse liriek konsentreer.“

Anneke het aan die Universiteit van Stellenbosch (US) ’n graad in musiek voltooi.  Op ’n winderige aand, toe die wolke dig saamgetrek het, en daar gerugte van reën in die lug was, is die lirieke van Dit voel dit reën gebore.  “Die rukwinde en die reuk van reën het my herinner aan geselsaande met vriende, aan lang kuiersessies voor ’n kaggelvuur. Die woorde het net gekom.’’

Sy is ’n meester van die klavier en haar vingers vloei soos ’n waterval oor die klawers, maar sy erken ruiterlik dat sy gesukkel het om ook haar woorde op papier te vind. “Ek het eers teen die einde van my studentejare begin om lirieke te skryf. Ek dink ek het in dáárdie stadium meer lewenservaring gehad.’’  

Anneke is ook nie die eerste sangeres en musikant wat haar inspirasie uit die wynlande, wind en studente-jol van Stellenbosch put nie.  “Ek weet regtig nie wat in die water is nie, maar ek het my stem in my woonstel in Stellenbosch gevind.“

Anneke is nou ook die eienaar van ’n musiekskool op George en sy verklap dat die klavier ook haar studente se gunsteling instrument is.  “Kinders vind dit lekker om verskillende kombinasies van klank en akkoord te probeer. Die klavier maak ook die mooiste ballades; ander musiekinstrumente het nie altyd die veelsydigheid van ’n klavier nie.’’

Musiek is seker maar in Anneke se bloed, want die klavier is al van kleinsaf haar minnaar.  Hoewel sy glad nie daarvan hou om voor mense te praat nie, is sy glad nie skaam as sy op die verhoog moet sing nie.

Sy het al die verhoog met groot name soos die van Jan de Wet, Elvis Blue en Karlien van Jaarsveld gedeel, en het ook die hoofrolle in verskeie operettes en musiekblyspele gespeel.

Volgens Anneke is sy nie bang om nuwe uitdagings aan te pak nie en wag vir enige musiekgeleentheid wat oor haar pad kom. “Ek is gelukkig solank ek net kan musiek maak. Daar is nog baie liedjies wat in my siel ronddans en dit sal eersdaags op papier verskyn.”

Haar stem is kinderlik-sopraan en herinner sterk aan ’n ligte windjie op ’n sonskyndag. Dit voel dit reën is ook pasknap vir haar stem.  Dit is ’n lekkerluisterliedjie wat nie net die liefde as ’n soetsappige storm beskou nie, maar as  ’n sagte windjie omarm en troos.

Anneke  is ’n  onontdekte reeds geslypte diamant wat nog diep spore in die musiekbedryf gaan trap.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *