Ruby B is terug met nog ’n gospelsnit, Hy help my staan.

Bykans sewe maande nadat die sangeres en prediker Ruby B se stem vir die eerste keer in die Afrikaanse gospelmusiekmark weerklink het, is sy terug met nog ’n gospelsnit, Hy help my staan.

Sy was tot onlangs toe nog ’n Kaapse boorling, maar die afgelope paar maande bevind sy haar in North  Carolina in Amerika, wat ook bekend staan as “die vrugbare aarde van gospelmusiek.”
 
En dit is daar, wáár die verskillende vorme van gospelmusiek, trradisioneel en kontemporêr gedy, haar nuutste enkelsnit Hy help my staan se saadjie geval het en geblom het tot volwassenheid, wat sonder enige pretensies juig en jubel oor God se groot wonderwerke.

Ruby het voorheen vertel dat sy  nie van plan was om haar toetrede tot die Afrikaanse musiekmark met ’n kommersiële gospelliedjie te maak nie, maar die liedjie, Daar’s ’n lied in my het kommersieel sukses bereik;die snit se emosionele boodskap het diep deur die siele en emosies van haar ondersteuners gesny.

Dit was ook van die redes waarom sy besluit het om weer ’n gospelsnit uit te reik.

Dié titel van die snit, Hy help my staan, is opsigself net so kragtig soos die lirieke, want ons almal, sê sy, het die Here se hand  nodig om ons uit die storms te trek.

Met dié snit, wat ook uit haar eie ritmiese pin verskyn het, het sy weer haar inspirasie uit Bybelse boeke geput. “’n  Mens kan nie vorentoe beweeg gedurende ’n storm nie (of dit nou ’n gesteelike of natuurlik storm is), jy moet net vastaan en glo. In Job 42.5 word daar geskryf: ‘Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien.”

Ruby is ’n bekende stem in die kerklike kringe, en het deur die jare ook ’n groot rol gespeel om mense se harte sagter te maak; die poging het ook in haar liedjies gemanifisteer. Liefde, genade en vergifnis word tematies in haar lirieke ingeweef.

Sy vertel dat dié snit deur die Heilige Gees geïnspireer is. “Ek het myself in ’n stadium ook in die middel van ’n emosionele storm bevind. Ek het toe besef dat elke mens – in verskillende stadiums in hulle lewens – ook deur storms gaan. Vir elkeen van ons is die storm anders, maar God maak dit vir ons makliker en dra ons daar deur.”

Op ’n manier is die snit ook ’n smeekgebed, waar Ruby vir die mense by God intree, vir Hom vra om hulle in alle omstandighede te dra, en nie te begewe en te verlaat nie.”  

Sy verwoord dit ook uitstekend in die koorgedeelte van die snit, ….maar in die storm sal ek bly staan, ek sal bly staan, Hy help my staan, ja,  in die in die storm sal ek bly staan, ek sal bly staan, Hy help my staan. Ek sal nie val nie, ek gaan nie lê  nie. Hy help my staan ek sal bly staan.  Kyk, kyk ek na die berg, van waar, waar kom my hulp. Roep, roep ek na die Heer, Hy sien my, sien my op my kniee. Help, help vir my my Heer, kom red, my red my nog ’n  keer, want in die storm sal ek bly staan, ek sal bly staan…”

Ruby het al 25 jaar gelede haar eerste liedjies geskryf. Die liedjies is as enkelsnitte uitgereik, maar dit was grotendeels beperk tot  predikingbegeleidings wat onder die handelsmerk van Revived Music Ministry uitgereik en versprei is.

Ruby B is egter nie net ’n gospelsangeres nie, en wil haar stem nie net tot een genvre beperk nie. Sy het al ook verskeie country-liedjies geskryf en gesing.  

Hy help my staan verkondig die boodskap dat “God ons nooit sal verlaat nie, al voel ons soms dat ons die storm alleen moet trotseer.’’

Ruby is self ’n diep gelowige en die eindresultaat van haar eie geloofspad, stryd, en emosionele storms weerklink diep in die musiek-en-liriek.

Sy verklap dat Jim Reeves haar musikale inspirasie is. “Sy musiek dra die Here se boodskap met soveel eerlikheid en opregtheid oor. Hy hou sy musiek eenvoudig en daarom raak dit ook mense se harte.”

Ruby skop die begin van die herfs met Hy help my staan af. Dit is ’n liedjie wat nie net uit volle bors by kerke gesing kan word nie, maar ook in jou eie huis. Ons moet onthou dat God altyd daar is; al is daar donderweer, blitse en swaar reën.

Die liedjie tegnies versorg en opgeneem deur Darryl de Lange.

Die musiekvideo van die liedjie, wat deur Wessel van Heerden opgeneem en vervaardig is,  is nou ook op YouTube vrygestel. Daar is Engelse onderskrifte sodat Engelse luisteraars ook na die snit kan lusiter en die lirieke waardeer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *