Stukkende skulpe het altyd ’n storie om te vertel…

Stukkende skulpe het altyd ’n storie om te vertel – soms is die storie rou en hartseer, ander kere is dit wéér stories van liefde en hoop.

Só vertel Therené Nel, sangeres, liedjieskrywer en aktrise van Durbanville in die Weskaap, oor haar nuutste enkelsnit, Stukkende Skulpe, wat ook in dié maand van liefde uitgereik word.

Hoewel dié snit geestelik geïnspireer is, is dit nie ’n gospelliedjie nie,  maar eerder ’n  volwasse kontemporêre liefdesballade. Die liefde word ’n metafoor van ‘’n warboel van woorde, gebroke akkoorde en stukkende skulpe.’’

Therené se lewe het ’n vreemde liefdespad met haar gestap; sowat dertien jaar gelede het haar man haar verlaat. Uit dié pyn is haar vorige enkelsnit, Snoei my tot liefde, gebore. ’n Lied wat  op 1 Korintiërs 13 gegrond is. Die snit is ook baie goed deur plaaslike luisteraars, asook radiostasies ontvang.

Stukkende Skulpe kan in baie opsigte beskou word as ’n opvolgsnit van dié tweeluik. Waar die eerste snit se lirieke handel oor die aanvaarding van jou eie tekortkominge, is Stukkende Skulpe weer ’n vreugdes- of jubellied wat oor “’n tweede kans op die liefde handel.“

Dit vertel ’n storie van genesing, liefde, tweede kanse en God wat alles kan omdraai.

Een van die plekke waar Therené op haar gelukkigste is, is by die see. Dit is ook die broeiplek vir die meeste van haar liedjies.

Elf jaar gelede het  sy ’n  man ontmoet wat ’n pad van genesing gestap het, nadat hy sy vrou begrawe het.  ”Ons het langs die strand gaan stap en hy het  stukkende skulpe opgetel. Dit was vir my vreemd, want mense versamel nie gewoonlik stukkende skulpe nie. Ek het hom gevra hoekom hy dit optel. Hy het geantwoord: “Stukkende Skulpe het ’n storie om te vertel,’’ sê Therené.

Sy woorde het haar diep geraak en daardie dag het stukkende skulpe twee stukkende mense bymekaar gebring wat vandag  gelukkig getroud is.

“Ek het die snit vir my man geskryf,” sê sy, “maar dit kan ook ‘n lied wees wat God vir sy kinders sing.”

Sy het sowat twee jaar gelede, tydens ’n liedjieskryf-werkswinkel wat deur Karen Zoid aangebied is, besluit om haar man se “inspirerende woorde” in ’n liedjie te verander.

Die eindresultaat is ’n  rou, eerlike ritmiese gedig, wat hoop bring, jou met ’n glimlag laat en jou vir ewig anders na stukkende skulpe sal laat kyk.

Therené het haar eerste vollengte album, Unveiled Identiy, gedurende die grendeltydperk uitgereik. Sy het verskeie uitverkoopte vertonings in die Kaap gehad en gebruik ook hierdie album se musiek tydens die Identiteits- en Visiebord Werkswinkels wat sy aanbied.

Therené is ’n gekwalifiseerde remediërende onderwys, wat onder meer gebaretaal bemeester het. Sy het onlangs werkswinkels in kuns- en spelterapie bygewoon het om haar verder toe te rus.  Alhoewel sy  hart vir kinders met spesiale behoeftes het,  is musiek, die verhoog en TV-werk haar passie en iets waarop sy hierdie jaar wil fokus.  

Stukkende Skulpe is ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse musiekskatkis en ons hoop dat soortgelyke snitte eersdaags uit haar pen sal vloei. Sy is ook onlangs genomineer vir twee Afri-Indie-toekennings in die kategorieë vir beste nuweling en beste nuweling: liedjieskrywer.  Die toekeningsgeleentheid vind in April plaas.

Die snit is tegnies baie goed versorg, en is deur Riaan Steyn van Traxtudio opgeneem en vervaardig. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *