JUAN BOUCHER REIK SPESIALE PA- EN DOGTER-ENKELSNIT UIT

“Ek wil graag eendag op hierdie liedjie met my dogter dans by haar troue,” sê Juan Boucher oor die inspirasie agter sy splinternuwe enkelsnit, DOGTER, wat beslis vir ander pa’s en dogters net soveel spesiale betekenis gaan inhou in die toekoms.

Hierdie lied, wat vanaf die eerste noot aan die hartsnare tokkel, kom uit sy eie pen en is vervaardig deur Tertius Human

“Daar is al baie liedjies met pragtige titels, maar hoe pragtig is die woord en die titel DOGTER nie net so op sy eie nie. Elke vrou, moeder, ouma en kleinkind is ’n dogter vir iemand, en hierdie liedjie verduidelik dit so mooi,” deel hy. “Dit is baie uniek, omdat daar nog nooit voorheen so iets geskryf is nie en dis vir my ’n groot voorreg om dit te kan sing en opdra aan my eie dogtertjie.”

’n Nostalgiese musiekvideo van die snit, wat regoor die land verfilm is, sal ook eersdaags beskikbaar wees en die sanger is baie opgewonde om dié konsep, wat hy saam met Quintin van der Merwe opgetower het, met aanhangers te deel. “Ons wil graag met dié video in ons kultuur vasvang hoe lief pappas vir hulle dogters is,” sê hy.

Kyk die video hier: https://youtu.be/EzEbSZwEuWw

Na meer as ’n dekade van sukses in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, het Juan beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie bekroonde Vaaldriehoeker, met sy growwe stem, lekkerluisterlirieke, ritmiese musiek en vermaaklike verhoogpersoonlikheid, het oor die jare diep in sy ondersteuners se harte kom nesskop.

Vandag is dié sanger en liedjieskrywer ’n gevestigde naam, meer as agt goue- en platinumverkoper ateljee-albums, talle radiotreffers en verskeie musiektoekennings op sy kerfstok. Hy is ook deesdae die trotse eienaar van die kleremaatskappy, Bouch Cloting, en die skrywer van die boek Die stories agter my potlood.

Hy en sy vrou het ook onlangs ’n stuk grond in St. Helenabaai in die Weskus gekoop, waar hy graag eersdaags ’n restaurant wil oopmaak. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, tree hy op as beskermheer vir ’n huis van veiligheid vir babas sonder heenkome en geniet hy dit om tyd saam met sy vriende en familie te spandeer rondom die braaivleisvuur. Hy sien ook baie daarna uit om in 2023 ’n Bruce Springsteen-vertoning in Ierland by te woon.

DOGTER volg in die suksesvolle voetspore van sy mees onlangse treffer, Koue Hande, wat reeds met meer as twee miljoen kyke op YouTube spog, asook ander groot treffers waarmee hy naam gemaak het, waaronder Onthou Jy om Jonk, Gebore Om By Jou te Wees, Ek Dink Ek Mis Maar Net Jou Hart, Ons Word Een, Huisie in die Bos (saam met Jan Rhaap), In Jou Wolk, Whiskey en Jy, en vele meer.

Juan Boucher is tans een van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf en met DOGTER bewys hy weereens hoekom hy al soveel sukses as musikant bereik het.

Die liedjie is nou op alle digitale platforms beskikbaar, kry dit hier: https://linktr.ee/juanboucher

SOSIALEMEDIASKAKELS:

JUAN BOUCHER

Facebook: https://www.facebook.com/juanboucherpage/  

Twitter: @juanboucher007

Instagram: @juanbouchersa

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *