RAYNE beskou homself as ’n uitvoerende kunstenaar – sy stem is wel sy instrument, maar hy is eerder ’n kunstenaar en nie ’n sanger nie – iemand wat sy woorde, musiek en klanke gebruik om sin uit die wêreld te probeer maak.
Na die sukses van sy debuutenkelsnit, Laat dit reën, is die jong kunstenaar van Centurion nou terug met nog ’n treffer, Lugkasteel, wat beloof om ook op die trefferparades te boer.
RAYNE, wie se verhoognaam ’n kombinasie van sy geboortenaam, Ruben Wayne, is, is ook verlede jaar by die Indi-Afrikaanse toekennings aangewys as die beste nuweling, beste lewendige uitvoerende kunstenaar en beste musiekvideo vir Laat dit reën.
As liriekskrywer is RAYNE nie bang om omstrede sosiale kwessies soos trauma, geestesgesondheid, drome, fantasieë en begeertes aan te pak nie. “My inspirasie vir lirieke verander die heeltyd. Ek kan soms net geïnspireer word deur ’n frase wat iemand in ’n gesprek gebruik of ander kere, soos met Laat dit reën is dit die toestand van die wêreld wat my noop om my gedagtes en emosies op papier neer te pen.”
Lugkasteel, is ’n elektroniese pop-dansliedjie wat op verskeie manier geïnterpreteer kan word. “Ek dink ’n liedjie kan ’n duisend verskillende betekenisse hê afhangende wie daarna luister. Ek het dié snit uit die oogpunt van ’n kind (tiener) geskryf wat vasgevang is in ’n vernietigende huishouding waarin mishandeling die botoon voer.”
Lugkasteel handel meestal oor die trauma van die verlede waarin ’n mens soms vasgevang is en dit is moeilik om uit daardie web te ontsnap. Die liedjie wipplank tussen donker, somberheid en gelukkige gevoelens. “Dit is ook waarom die snit se naam Lugkasteel is; dit verteenwoordig die idee van ’n perfekte lewe/huishouding wat baie keer net ’n droom is,” vertel hy.
Dit is asof die milleniër biopolêre emosies uitdruk – die boodskap in kleurryke popmusiek toegedraai. “Ek wil musiek maak wat iets beteken, maar ek wil steeds hê dat mense dit geniet – daarop dans en saam sing. My styl word ook deur rock-musiek beïnvloed. Dit is ’n samestelling van rou emosies (rock) en gepoleerde denke (elektroniese musiek).
Hy is nie net ’n uitstekende liriekskrywer nie, maar kan ook klavier en die klawerbord speel.
RAYNE is ’n bekende gesig (en stem) in die teater. Hy was net vyftien toe hy vir die eerste keer in produksies by die Barnyard-teater opgetree het. Hy was vir die afgelope ses jaar deel van die teaterspan voordat hy besluit het om op ’n solo-loopbaan te fokus.
“Ek sal graag net wil hê dat my musiek luisteraars op ’n emosionele manier moet aanraak. My musiek moet mense hoop gee.”
“Ek wil ook hopenlik iets nuuts na die Afrikaanse musiekbedryf bring – my musiek is divers en ek wil hê dat meer mense moet voel dat hulle iewers behoort. Ek wou oorspronklik net op Engelse musiek gefokus het, maar nadat ek weer my opsies en doelwitte oorweeg het, het ek besef dat ek groter hoogtes in die Afrikaanse musiekbedryf kan bereik – veral wanneer dit kom by diversiteit en sosiale kwessies.”
RAYNE sê, hoewel sy kleredrag en die manier waarop hy sy kuns pleeg, soms eksentriek is, is hy eintlik ’n Harry Potter-bleeksiel. “Ek glo vas dat ek in Huis Ravenclaw was.”
Hy is ook ’n figuurskaatser en spandeer tot drie ure per dag op die ysskaatsbaan. “As ek nie in die musiekbedryf betrokke was nie, sou ek tien teen een ’n akteur of selfs ’n regisseur geword het. Ek het in ’n stadium ook daarvan gedroom om ’n professionele figuurskaatser te word.”
RAYNE se musiek word beïnvloed deur kunstenaars soos onder andere Lady Gaga, Prince, Pink en Stray Kids. “Hulle is almal visioenêre wat ’n verskil in die samelewing wou maak. Hulle was nie bang om kanse te waag en iets nuuts te probeer nie.”
RAYNE is soos ’n Gautengse donderstorm na ’n lang droogte. Hoewel die klanke bene aan die roer sal kry, is sy lirieke nie besmet met goedkoop clichés en taai borrelgom proesels nie.
Hy is ’n aanwins vir die musiekbedryf en met Lugkasteel bewys hy dat elektroniese pop as ’n genre nie onderskat moet word nie.
Die snit is deur Vincent Gordon opgeneem en vervaardig.