Anton Fitchat vertel ‘n onvergeetlike sprokie soos nog nooit van tevore

”Aspoestertjie” is ’n baie geliefde en tydlose sprokie wat al op verskeie maniere aan kinders (en grootmense) oorgedra is.

Met sy wonderlike skryftalent vertel Anton Fitchat díe storie soos nog nooit vantevore nie!

Aspoestertjie is Fitchat se tweede solo-enkelsnit en kan beskryf word as “kindermusiek met ’n dinamiese sokkie-ritme”.

“Ek het hierdie liedjie al ‘n hele paar jaar gelede geskryf, maar ek het gewag vir die regte oomblik om dit met die publiek te deel.  Almal hou van hierdie sprokie en ek glo dat dit by oud en jonk sal aanklank vind.”

Anton is al van skooldae af versot op musiek en glo dat sy passie amptelik gevorm is gedurende sy koorjare op laerskool.

Hy werk al sedert 2009 in die musiekbedryf en het al verskeie hoogtepunte in sy loopbaan bereik, waaronder ’n Melomaan Musiek toekenning vir “Duet van die Jaar” saam met sangeres  Betty Jean in 2021, asook ’n “Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaarstoekenning” vir komedie liedjie “Die Virus” in dieselfde jaar.

In 2022 het Fitchat weer by Melomaan Musiek weggestap met die toekenning vir die “Beste Kinderliedjie” van die jaar.  Ook in 2022 het hy saam met sy medeskrywer en goeie vriend, Dwayne Griffin, ‘n toekenning gekry by die “Afri-Indie Onafhanklike Musiek Toekennings”, vir die beste liedjie in die kategorie “Groot Groep van die Jaar” vir die temalied van “Staan Sterk in Afrikaans”

Die musikant is mal oor humoristiese en Afrikaanse musiek en vind aanklank by sangers soos Saarkie, Jeanette Oosthuizen, Sorina Erasmus (Flooze), Patricia Lewis en Manie Jackson, en verklap dat hy nog eendag graag iets saam met Saarkie, Jeanette Oosthuizen of Patricia Lewis sal wil opneem.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, werk hy as ‘n bemarkingsbestuurder en grafiese ontwerper aangesien Fitchat op verskeie maniere uiting aan sy kreatiwiteit wil gee.

Fitchat is ook die stigter van die platform “Staan Sterk in Afrikaans” wat vir onafhanklike sangers geleentheid om uiting te gee aan hulle liefde vir afrikaanse musiek .

Van die grootste lesse wat hy in die musiekbedryf oor die jare geleer het is om altyd nederig te bly en outentiek te wees, en hy het dit beslis ter harte geneem.

“Aspoestertjie” bewys dat Fitchat nie bang is om uniek te wees nie en is beslis ’n liedjie wat die jongspan vir nog baie jare sal onthou.

Die enkelsnit is nou beskikbaar op Apple Music, iTunes, Spotify, YouTube, Deezer, Amazon Music en meer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *