Henry Wickens, wat sedert verlede jaar as Jammer bekendstaan, is dié maand terug met ’n enkelsnit, Nog ’n keer, wat met ’n mens se kop smokkel. Trouens, die snit neem jou op ’n malse rock-avountuur wat amper ’n psigotiese droomwêreld uitbeeld waar liefde, vuur en passie uitgebeeld word in sterk lirieke.
Jammer het in Augustus met ’n rock-snit, Somerson, weer pens-en-pootjies die rock-wêreld ingeval. Die snit is goed deur plaaslike radiostasies ontvang en resensente het gemeen dat dié snit ons weer terug neem na die MK-generasie aan die begin van die millennium.
Nog ’n keer handel ook oor die liefde; maar die liefde is die keer meer ongenadig as die tipe liefde wat hy in Somerson uitgebeeld het.
Jammer sê: “Die snit gaan oor ’n aand uit wat jy nie wil hê moet eindig nie. Jy wil keer-op-keer die aand herhaal. Weer voor jou laat afspeel.”
Nog ’n keer verskyn op sy vollengte album In my kop wat ook vroeër die maand bekendgestel is.
Nog ’n keer ontplof soos vuurwerke in jou kop: En ja, verduidelik Henry, die liedjie beeld, net soos die ander snitte op die album, die verskillende fasette van die menslike persoonlkheid uit. Hy glo vas dat verskillende emosies in een persoonlikheid vasgevang kan word. Dit sluit liefde, vreugde, kwaad, jaloesie en rou in. Hy beeld ook die emosies in die snitte op die album uit.
Somerson, verduidelik hy, het die rou van verwerpte liefde (dus nog ’n emosie) weergegee.
Met Nog ’n keer probeer hy vreugde vasvang. Vir baie mense is vreugde daardie diep geluk wat soos ’n aweregse seestroom oor jou spoel; vir Jammer is dit om plesier en geluk saam met iemand te ervaar; ’n abstrakte konsep van vreugde.
Henry was in gr. 10 toe sy groep in die top 8 van die MK Rock-Spaaider-kompetisie beland het. Kort nadat hy gematrikuleer het, het hy Upington in die Noord-Kaap, waar hy ook grootgeword het, se stof en vetplante, van sy skoene afgestof, en in die Jakarandastad verder aan sy musiekdrome gebeitel.
Die “gebeitelry” het vrugte afgewerp, want Jammer lirieke is goed afgerond en sy snitte is ook musikaal baie goed versorg.
Henry het reeds in 2018 met die Jammer-konsep begin het. “Ek het al soveel foute gemaak en het baie keer vergeet om die woordjie “jammer” te gebruik. Nou kan ek sommer vir almal wat ek al in my lewe te na gekom het, jammer sê,” lag hy.
Die musiekbedryf het vir Jammer geleer dat harde werk, respek en nederigheid (en natuurlik ook sy versameling elektriese kitare) die hoofbestanddele vir ’n musikale wenresep is
Nog ’n keer is nie net die resultaat van die werk en passie wat hy reeds in sy loopbaan belê het nie, maar is ook een van dáárdie liedjies wat jy teen die mure gaan uitgil.