Gwendoline Kriek – Geopende Deur

Galore SA/ September 19, 2022/ ENTERTAINMENT, LATEST NEWS/ 0 comments

Na ’n stilte van  bykans sewe jaar is die bekroonde geestelike sangeres Gwendoline Kriek terug met ’n splinternuwe gospel-uitreiking, Geopende deur, wat ligweg  op ’n bybelvers uit Openbaring 3:8 gegrond is.

“Kyk, Ek het ’n deur vir julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie.”

Dié vers het vir Gwendolene, wat in 2009 onder meer ’n Rapport-Vonk-toekenning, ’n SABC-Crown– en ’n ATKV-Lierbenoeming vir haar album Woord ontvang het, so geïnspireer dat die woorde vir die liedjie soos helder fonteinwater uit haar pen gevloei het.  “Ek het oor dié vers gemediteer en dit is die lied wat die Here vir my gegee het,” sê sy.

Dié titel van die enkelsnit is net so kragtig soos haar stem wat vol vrede, stiltes en gewyde oomblikke is.

Geopende deur het ook ’n storie wat sy oorsprong uit geloofsvertwyfeling gehad het.

“Die liedjie is tydens die grendeltydperk gebore,” vertel Gwendoline. “In Desember 2021  was ek moedeloos; met die kerk, en die Covid-19 pandemie wat ons net nie wou ophou wurg nie. Ek het met die Here gestoei en gewonder wat ek het om aan mense te bied. Al waaraan ek kon dink was om lirieke neer te pen.

“Om myself te bemoedig en te inspireer het ek besluit om elke oggend, so saam met my oggendkoffie,  ’n bybelversie te lees. Ek het myself vyf minute gegee om die vers te toonset. Ek het op die manier verskeie verse uit die bybel geneem en op my eie lewe van toepassing gemaak.”

Haar kerk het in dáárdie stadium ook ’n veldtog met die tema “Geopende Deur” beplan.. Sy het haar talente om te toonset gaan aanbied en die geeestlike leiers het geluister en “die deur vir haar oopgemaak.”  Die lied word wonderlik ontvang waar dit ookal gehoor word. 

Gwendoline het al veertien jaar gelede haar toetrede tot die gospelmusiekmark gemaak. Haar eerste album Bederf  is uitstekend deur plaaslike radiostasies ontvang en baie musiekkenners het haar naam in dieselfde asem as die van die bekende gospelsangeres Ronéll Erasmus genoem.

As oud-onderwyseres verstaan Gwendoline die hart van ’n kind baie goed. En in 2011 het haar eerste gospelalbum en DVD vir kinders, Gwendoline en die Bet-El-kids,  die lig gesien. ’n Tweede album en DVD, waar sy weer haar stem met die van kinders gedeel het, het twee jaar later verskyn.  Hierdie album, Gwendoline en die Bet-El-kids het Vrede, was ‘n Ghoema-toekenning finalis.  Beide albums het so goed soos Hertzog-koekies by ’n kerkbasaar verkoop.

Die lirieke en musiek is baie opgeruimd, maar Gwendoline beskou Geopende deur  steeds as ’n meditatiewe lied. “Die woorde en wysie is maklik om te onthou en luisteraars kan dit die heeldag herhaal of saam sing.”  

Wat die snit ook so uniek maak is die feit dat sy dit saam met haar kerk se orkes opgeneem het.  “Ek wou gehad het dat die snit presies soos hoe ons dit in die kerk sing moet klink, en daarom het ek van my gunsteling orkeslede gevra om die liedjie saam met my op te neem. Die liedjie het ’n geweldige impak op ons gemeentelede gehad.”   

Gwendoline het weer met die snit bewys dat die Here vir ons almal deure kan oopmaak en dat ons oor dinge bekommerd hoef te wees nie. As ons moedeloos raak, sal daar ’n deur vir ons oopgemaak word.  

 Geopende deur lei ook ’n nuwe era in Gwendoline se musiekloopbaan in en ons glo dat daar nog meer van dié tipe snitte uit haar pen sal verskyn.

Share this Post

Leave a Comment

Your email address will not be published.

*
*