Steyn de Wet en nuweling Esmé Fox het pas hul enkelsnit, ‘Winterkaap’ bekendgestel.

Galore SA/ August 2, 2022/ ENTERTAINMENT, LATEST NEWS/ 0 comments


Sanger Steyn de Wet en nuweling Esmé Fox het pas hul enkelsnit, ‘Winterkaap’ bekendgestel. Winterkaap is deur Steyn geskryf en beskryf iets wat mense gereeld voel, maar sukkel om van sin te maak. ‘’Dit is die enigste teenvoeter vir eensaamheid, om afgesonder te voel in jou situasie, maar te weet dat jy nie die enigste een is wat so voel nie,’’ het hy vertel.


Steyn de Wet word geken vir ‘Maanligwandelaar’ en ‘Songs van Verliefde Mense’, en word deur kritici en ander liedjieskrywers vergelyk met Koos Doep en Leonard Cohen.


In 2013 was sy debuut album, ‘Kyk Maar Mooi’, vrygestel. Tesame met Maanligwandelaar, draai die titelsnit en ‘Veilige Berge’ landswyd op radio en TV. In 2015 verskyn sy tweede album, ‘Hooglied’, en verwerf lof vanaf kritici. Vanaf hierdie album draai ‘Songs van Verliefde Mense’ wyd en suid – en lank – oor die lugweë; en ‘Sê my Lief’ se musiekvideo is op Kyknet te sien.


Steyn het Esmé per toeval na ‘n vertoning ontmoet. Dit was Maartmaand 2022 en tyd vir die jaarlikse Gifberg Spook musiek fees. Die laaste vertoning van die Vrydagaand het tot ‘n einde gekom en meeste feesgangers het die tog terug na hul tente toe aangepak, maar vir die bloubaard musikante en musiekliefhebbers het die grootste lekkerkry van die fees juis daar begin.


Soos met alle vorige jare, het ‘n impromptu akoestiese vertoning uitgebreek op die stoep van die huis waar meeste van die musikante gebly het tydens die fees. ‘’Wat op die stoep saakmaak is dat jy jou hart op jou mou dra saam met die ander bittereinders,’’ vertel Steyn laggend.


Meeste van die kunstenaars en feesgangers van 2022 se Gifberg Spook Fees was ook vorige jare daar, maar daardie Vrydag aand was daar ‘n nuwe gesig tussen die ou bekendes. Esmé Fox het na die Spook toe gekom as ‘n toeskouer, ‘’maar sy het gelyk soos ‘n rocker en het gewis ook die gepaardgaande houding gehad. Soos wat die kitare en geleentheid om jou ding te doen in die groep omgegaan het, was sy duidelik angstig vir haar beurt,’’ het Steyn vertel.


‘’Toe die kitaar en geleentheid uiteindelik hul weg gevind het tot by haar, het sy nie slegs die stoepmusikante verstom nie. Nee, sy het sonder skaamte laat loop en ‘n magiese kombers van klank en gees oor die ganse Gifberg Spook tentedorp laat rus. Die volgende dag wou almal by die feesbaas, Herman Kleinhans, weet wie die stem in die nag was.’’ Teen Saterdagmiddag was dit bepaal dat sy die aand ‘n vertoning van haar eie op die hoof verhoog sou lewer.


Esmé Fox (die verhoognaam van Esmé de Vos) is ‘n blues-rock sangeres en liedjieskrywer. Al is sy nuut op die Afrikaanse musiektoneel, is sy geen vreemdeling op die verhoë van Suid-Afrika nie. Dié vurige musikant met haar waaghalsige blues-rock sangstem het sedertdien sy 16 jaar oud was in verskeie bands opgetree.


Esmé het groot geword en skool gegaan in Durbanville wat in die Noordelike Voorstede van Kaapstad is. Sy het begin sanglesse neem sedert sy 4 jaar oud was en musiek maak is al wat sy nog ooit geken het. Daar word deur haar ouers vertel dat sy kon sing voordat sy kon praat.


Na matriek het sy haar Baccalaureusgraad in Drama en Uitvoerende Kunste by die Universiteit van Stellenbosch voltooi, maar het na haar graad en ‘n stryd met self-vertroue ‘n besluit geneem om eerder agter die skerms in die filmbedryf te werk as ‘n Kunsdepartement-koördineerder en rekwisiete meester vir advertensies. Daar het sy haar liefde vir bemarking ondek en ‘n Baccalaureusgraad in Besigheidsadministrasie in Bemarkingsbestuur by IMM Graduate School gaan voltooi en werk tans as ‘n Digitale Bemarkingspesialis.


Intussen het Esmé nooit haar droom om ‘n voltydse sangeres en musikant te wees laat gaan nie. Esmé sê, “Al wanneer ek werklik vol self-vertroue is en lewendig voel is wanneer ek die ding doen waarvoor ek die meeste lief is en passie voor het – op die verhoog staan en sing, en ‘n gedeelte van my siel en storie met mense kan deel.”


Nadat Steyn haar stem en haar durf ervaar het, het hy stilweg by homself gedink, “Dame, ek glo in jou.” ‘n Paar maande later het die koue seisoen vertrek na die Suidelike halfrond, en het ‘n lied soos geen ander opgedaag in Steyn se wese. ‘’Die eerste helfte van hierdie jaar was ’n uitdagende tyd in my lewe: ek is deur ’n egskeiding, my doktorale studies het tot ‘n einde gekom, so ook die kontrak vir die werk wat ek op daardie stadium gedoen het. In tussen het nuwe mense en moontlikhede deel geword van my lewe, maar sonder dat enigiets of -iemand vir my ‘n mate van vaste grond onder my voete gegee het,’’ het Steyn verklap.


‘’Ek het verkeerdelik gedink – tussen deur die half-wakker en half-slaap – dat dit die laaste dag van die herfs was en dat ek oor die draai van die seisoen wakker gelê het. En dit was uit die aard van die saak metafories van my eie lewe, dat daar ‘n seisoensverandering was na ‘n harde winter toe,’’ het hy uitgebrei.
Winterkaap is tematies sterk beïnvloed deur een van Steyn se gunsteling liedjies, Anton Goosen se ‘n Brief vir Simone. ‘’Dit is een van my gunsteling Afrikaanse songs van alle tye, en dit is tipes van ‘n man om amper alles te beskryf behalwe dit wat werklik in sy hart aangaan. Vir Goosen was dit Hilbrow, vir my was dit die Winterkaap rondom my,’’ het hy verduidelik.


Terwyl hy die melodie vir die refrein gekomponeer het, het nog ‘n eenvoudige oortuiging boontoe gedryf in sy kop: ‘’Esmé Fox moet hierdie lied sing!’’


Steyn het toe die liedjie aan Esmé gestuur en haar gevra of sy dit saam met hom sal opneem. Nadat sy dit geluister het, het sy trane in haar oë gehad en onmiddelik ja gesê. ‘n Week of twee later is hulle op Johannesburg toe om lewe te gee aan Esmé & Steyn se eerste enkelsnit.


Vir die opname, verwerking, en vervaardiging het Steyn en Esmé saam met Ben Ludik by Abbey Road Institute Johannesburg gewerk. Tertius Human by Vonk Musiek se ateljees het die klank gemeng en bemeester.


Esmé & Steyn beplan ‘n opvolg enkelsnit en uiteindelik ‘n album. Hulle is oorgehaal om die land plat te toer met kraakvars musiek en stories. Hulle is te sien op 29 en 30 Julie saam met Jan Blohm en Ryno Velvet in George en Oudshoorn onderskeidelik. Esmé sal ook saam met Steyn verskyn op 11 en 12 Augustus by Du Kloof Lodge (naby die Hugenote Tonnel).

Share this Post

Leave a Comment

Your email address will not be published.

*
*