Vir die MK-generasie was die naam Henry Wickens , van die groep Laaste Duplikaat, sinoniem met pop-punk, ’n diep sensuele stem wat die meisies laat sidder het, en lirieke wat die eerste dekade van die nuwe millenium se storm-en-drang goed vasgevang het.
Hoewel hy toe maar in graad 10 was, het die “outjie” van Upington in die Noord-Kaap die musikale tonge laat klap en dit het niemand verbaas toe die Laaste Duplikaat in die top 8 van MK Rock-Spaaider beland het nie.
Nou is Henry, wat sedert verlede jaar die naam Jammer as verhoognaam gebruik, terug met ’n enkelsnit Somerson wat weer die nuwe musikale dekade – waar liedjieskrywers meer op hartstog en die liefde gefokus word – verwoord.
Somerson, wat ook uit sy eie pen verskyn het, verskil van sy ander snitte in die opsig dat dit ’n nuwe waarheid bevat. Hy verduidelik dat hy sedert 2011 op soveel vlakke gegroei het – emosioneel en musikaal – en daarom het sy eie waarheid ook verander.
Die snit handel oor gebrokenheid; oor verset en opstand. Oor ’n liefdesverhouding wat iewers langs die pad skipbreuk gelei het. “Die snit is baie op my eie lewensdraaie gegrond. Ek het myself baie keer verloor, moes myself weer vind. My hart is ook ’n paar keer gebreek, maar ek het besef dat ek eers hard moes val voordat ek weer kon opstaan.”
“Die liedjie het net na my toe gekom. Ek het nadat ek die lirieke geskryf het eers besef dat die liedjie eintlik ’n dieper betekenis het en dat dit nie net oor ’n gebroke verhouding gaan nie, maar dat jy eers iets moet verloor om uit te vind waarvoor jy lief is,” vertel hy.
Henry vertel dat hy al in 2018 met die Jammer-konsep begin het. “Ek het al soveel foute gemaak en het baie keer vergeet om die woordjie jammer te gebruik. Nou kan ek sommer vir almal, wat ek al in my lewe te na gekom het, jammer sê,” lag hy.
Die MK-generasie, glo hy, het saam met sy musiek beweeg en van hulle is vandag nog getroue ondersteuners. “Daar bestaan ’n diep konneksie tussen my lirieke en my hart en ek dink dit is waarom my ondersteuners nog altyd aanklank by my musiek gevind het.”
Nadat hy gematrikuleer het, het hy onmiddellik die pad na Pretoria gevat en hy het sedertdien sy hand aan verskeie musiekprojekte gewaag.
Sy ouers het hom nog altyd ondersteun en het hom sedert sy skooldae aangemoedig om soveel instrumente moontlik te bemeester. Hy is meester van die bas- en akoestiese kitaar en kan ook klavier speel.
Sy grootste plesier is om ’n nuwe kitaar te koop. Hy het ses kitare wat hy om die beurt op die verhoog gebruik. “My skryfproses begin altyd by my kitaar. Op ’n manier vertel kitaar ook die storie van my lewe.”
Henry is ’n sterk liriekskrywer en het die afgelope elf jaar verskeie liedjies geskryf wat op radiostasies se trefferparades geboer het.
Somerson is ’n lekker luisterliedjie en dit sal byval by oud en jonk vind.