TWEE MUSIKANTE MAAK VREDE


Vrede het pas hul eerste Afrikaanse enkelsnit getiteld, Perspektief bekend gestel. Die rock duo wat bestaan uit vriende Francois Roux en Storm Opperman het ‘n groot gevolg in die Engelse mark met hul groep The Stinging Rogers opgebou, maar hierdie is die eerste keer wat hulle musiek eksklusief vir die Afrikaanse mark opgeneem het.
Francois en Storm is al vriende sedert hul Hoërskool dae by Paul Roos Gimnasium en het selfs op Universiteit saam musiek besigheid aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. ‘’Ons het in graad nege in die Afrikaanse klas ontmoet. Ons het altyd oor dieselfde goed gelag en is gereeld saam uit die klas uit gejaag,’’ skerts Francois.
Na Universiteit het die twee se paaie egter geskei. Storm het ‘n pos op ‘n seiljag in Frankryk gekry en het in sy af tyd as ‘n straatmusikant opgetree. Hy het egter vinnig besef dat hy meer geld met sy musiek verdien het.
Toe hy terug gekeer het na Suid-Afrika het Francois reeds The Stinging Rogers saam met twee ander vriende begin. Die ander lede het egter die groep verlaat en Francois het vir Storm genader om saam met hom musiek te maak.
Beide Francois en Storm wou nie musiek maak wat as konventioneel kommersiëel geag sou word nie, maar wou eerder musiek maak wat vir hulle iets beteken, en in die skryf proses het die twee mekaar goed aangevul. ‘’Storm is baie sterk met liriese konsepte. Hy sal met ‘n vers vorendag kom en ek vind dit makliker om die koor en die hook te skryf,’’ deel Francois.
The Stinging Rogers was op ‘n stadium bekend as die besigste band in die Wes-Kaap, hulle het al die verhoog gedeel met groot name soos Desmond and the Tutus, Van Pletzen, Francois van Coke, Dozi, Ray Dylan, Bok Van Blerk en Brendan Peyper, en het selfs nommer een op Soundcloud se ‘’New & Hot Rock’’ en ‘’Folk’’ charts in 2018 gehaal.
In 2020 het Francois en Storm na Johannesburg verhuis. Francois het as ‘n publisiteits beampte by Vonk Musiek begin werk en die The Stinging Rogers is by Vonk Musiek se jeug afdeling, CoolerBox Records geteken.
The Stinging Rogers het hier hul enkelsnit Borderline opgeneem, maar het ook hier ‘n nuwe liefde vir Afrikaanse Musiek ontwikkel. Storm en Francois het begin om Afrikaans musiek te skryf. Dit het die twee ‘n jaar geneem voor hulle tevrede was met die musiek wat hulle geskryf het, maar uiteindelik het hulle, hul Afrikaanse stem gevind en Vrede is gebore.
Met hul eerste enkelsnit getiteld Perspektief het hulle ‘n oorspronklike klank ontwikkel. ‘’Ons het definitief iets nuuts probeer aangesien ons nog altyd meer gefokus was om engelse musiek wat vir ons meer natuurlik gekom het. Hierdie sal ons eerste Afrikaanse enkelsnit wees en het vir die eerste keer ook die bekfluitjie ingebring om daai egte tuis en warm, Afrikaanse gevoel te skep,’’ het Francois vertel. ‘’Ons het ook daarop gefokus om ’n single uit te bring wat “groove” met ’n positiewe energie en gevoel,’’ het Storm by gelas.
Perspektief se lirieke is deur Opperman geskryf en is geïspireer deur padwoede. ‘’Ek het besef wanneer ek bestuur sukkel ek soms om nie kwaad te raak vir ander mense nie, maar baie keer as mens kwaad word is dit net jou perspektief wat net een kant van die storie vertel,’’ het hy vertel.
‘’Elke storie het twee kante en mens moet leer om mekaar te respekteer uit verskillende perspektiewe uit. Hierdie stelling is veral baie toepaslik op die groot kultuur verskille in Suid Afrika en ons voel almal kan baat deur mekaar se opinies te respekteer vir hoe hulle dit in hulle realiteit en perspektief uitstraal of ontvang. Ons doel met die lied is om ’n positiewe boodskap uit te stuur van respek vir mekaar en ander se opinies,’’ het Francois by gelas.
Roux en Opperman is opgewonde om die lied met hul aanhangers te deel en sal ook binnekort ‘n musiekvideo vir Perspektief bekendstel wat hulle vroeër die maand in Stellenbosch opgeneem het. ‘’Vir ons persoonlik het hierdie single baie betekenis aangesien dit die eerste single is wat ons in ons moedertaal uitreik, wat vir ons ’n ongelooflike voorreg is. Perspektief is ook die eerste Afrikaanse liedjie wat Storm ooit geskryf het,’’ het Francois afgesluit.
Vrede beplan om deur die loop van 2022 nog twee enkelsnitte uit te reik wat voor Desember aanlyn beskikbaar sal wees. Die volgende twee enkelsnite sal ook met Visualiseerders vrygestel word wat huidiglik ’n tendens is in Australië
Vrede sal ook te sien wees met optredes op die 5de Augustus by Sowaar Bar en die 12de Augustus by Jarr Bar in Pretoria. Hulle is ook Donderdae aande te sien by Cool Runnings in Benoni en is ook gereeld deel van Dozi’s Back to the Roots in Hartbeespoort.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *