Niks verander die liefde nie


Sanger Gian Groen het pas sy nuwe enkelsnit, Niks Verander Die Liefde Nie bekendgestel.
Min liedjieskrywers kan vergelyk met die tipe impak wat Gian Groen op Afrikaanse Musiek gehad het. Sy treffer Vier Seisoene Kind, bekend gemaak deur Laurika Rauch, word geag as die mees ‘’covered’’ liedjies in Afrikaanse musiek en word slegs geewenaar deur Koos Kombuis se Lisa Se Klavier.
Gian is vroeër vanjaar deur die FAK vereer vir sy Positiewe bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek, maar hy is nog lank nie klaar daar mee om sy bydrae te lewer nie. Hy is voortdurend besig om nuwe musiek op te neem.
Sing Vir My Saggies, wat hy saam met sanger John Rock Prophet opgeneem het, is ‘n psalm-mooi duet wat tot teen die been sny en sy enkelsnit Lonely Troebadoer was vir twee agtereenvolgende weke lank nommer een op RSG se top 20.
Niks Verander Die Liefde Nie is kenmerkend Gian Groen. Met die eerste strofe gly sy stem soos botter oor die melodie. Die note is deurdag en misleidend in hul eenvoud, en met die lirieke dig Gian oor een van die oudste onderwerpe in musiek, die liefde. ‘’Die liedjie is maar net konfirmasie dat daar niks belangriker as liefde in hierdie onsekere wêreld is nie. Ek wil my gehoor daaraan herinner,’’ het hy vertel.
Soos met Sing vir my saggies en Loneley Troebadoer gaan haal Gian die woorde uit die dieptes, maar Niks Verander Die Liefde Nie tref ‘n paar ligter note en ‘n mens word dadelik in die versoeking gelei om jou beter helfte dansvloer toe te sleep vir ‘n lekker ‘’two-step’’.
‘’In die lied poog ek om dit eenvoudig hou met eerlike lirieke, en om mense te laat dans,’’deel Gian.
‘’Hierdie liedjie is deel van n projek waarin ek van my ou liedjies, wat nooit tot hul reg gekom het nie, nuwe lewe gee. Ons het n vars nuwe klank gekry uit Totius Hill Studio wat voortaan ook in ander produksies verwag kan word,’’ het Gian verklap.
Vir Gian het sy nuwe musiek ‘n uitlating geword vir alles wat ons deur gemaak het oor die afgelope twee jaar. ‘’Alles waaraan ons nou werk voel soos n viering van die feit dat ons die pandemie met al sy struikelblokkie oorleef het, en baie sterker aan die anderkant uitgekom het,’’ vertel hy.
‘’Ek was lanklaas in my loopbaan so besig soos nou, en in November tree ek op by n musiekfees in Adelaide, Australië,’’ het hy af gesluit.
Niks verander die liefde nie is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *