BLOUMOORD IS TERUG MET HUL NUWE ENKELSNIT – HEY JY

Foto verskaf


Bloumoord het pas hul nuwe enkelsnit getiteld; ‘Hey Jy’ bekend gestel.


Met hul treffers ‘Jy Moet Net Jouself Wees’ en ‘Dis Okay’ het Bloumoord die musiek mark betree met hul eie unieke mengsel van koel en ‘weird’. Die jong band kry dit reg om die balans tussen alternatiewe en kommersiële musiek te handhaaf en met elemente van rock en punk bied Bloumoord ‘n klank wat die Afrikaanse mark nog nie gehoor het nie.


Bloumoord is begin deur Boksburg broers Tiaan, Martin en Trevor Enslin. ‘’Martin het met sy sakgeld vir hom self ‘n stel tromstokke by Warmbad se CNA gekoop. Hy het nie ‘n tromstel gehad nie en het maar op die mure, banke en ou koffieblikke vol sand begin speel,’’ het Tiaan die oudste broer vertel. Hulle het uiteindelik vir Martin ‘n stel tromme gekry en Tiaan en Martin het saam begin musiek maak. ‘’Martin is ‘n laatlammetjie, so dis as of ons ouers geweet het dat ons ‘n ‘drummer’ nodig sou kry,’’ spot Tiaan.
Tiaan het begin geld spaar en hy het vir sy middelste broer, Trevor, ‘n bass-kitaar by Cash Crusaders gekoop en vir hom gesê hy moet leer speel. Uiteindelik was die drie ‘n band en hulle het saam begin musiek skryf en maak in hul ouers se motorhuis.


Die broers het ernstig begin raak oor musiek en hulle het Pedré Lamprecht op die elektriese-kitaar en Renier Hattingh op ritmiese-kitaar gevra om by Bloumoord aan te sluit. ‘’Ons is almal baie passievol oor die musiek wat ons maak en wat ons eendag wil bereik en dit voel as of ons twee boeties by gekry het,’’ het die broers gedeel.


Bloumoord wou uit die staanspoor musiek maak wat nie soos enige ander band sin klink nie en hulle lied, Jy Moet net Jouself Wees, se jeugdige en rebelse gevoel het dadelik aandag getrek. Hey Jy, het egter ‘n meer volwasse aanslag wat ‘n dieper kant van die laaities van Boksburg ten toon stel. ‘’Ons het binne ‘n baie kort tydperk ‘n evolusie ondergaan. My jongste broer is eweskielik 18 en het oornag in ‘n solid bassist verander, Ek het eweskielik my stem gevind en Martin speel heel skielik heel anders tromme en met Pedré en Renier wat bygekom het, het iets net gejel,’’ deel Tiaan.


‘’Ek wou ‘n song skryf waar ons direk met die gehoor praat,’’ het Tiaan vertel. ‘’Ek het maar ‘n bietjie van ‘n plat kop en die eerste ding wat in my gedagtes opgekom het was die woorde hey jy.’’ Trevor het met ‘n paar note op die bass-kitaar begin speel en Tiaan het oor die note begin harmoniseer. ‘’Dit het nie geklink soos die tipe musiek wat ons gewoonlik sou maak nie, maar dit was beter,’’ verklap Tiaan.


Hey Jy spreek ook iets dieper aan. Tiaan wie die lirieke geskryf het vertel dat hy in die verkeer buite Sandton vasgesit het en vir die mense om hom begin kyk het. ‘’Die ou in die kar voor my het net kwaad gelyk. Hy was kwaad vir alles en almal om hom en ek weet nie hoekom nie, maar ek kon sy energie aanvoel. Langs my was ‘n boemelaar wat by die robot gebedel het en die spesifieke dag het dit my gepla, want ek kon die trane in sy oë sien.’’


Hierdie oomblik het die res van die lirieke geinspireer. ‘’Ek het besef, ons almal gaan deur dieselfde dinge. Ons probeer net deur die dag karring en soms is dit net nodig om te stop en vir ander mense in die oë te kyk,’’ het hy verduidelik.


Hey Jy het nostalgiese elemente wat aan die laat 90’s of vroeë 2000’s herinner, en voel bekend en onverwags terselfdetyd. Die lied vind ‘n fyn balans tussen lig en donker wat ‘n tipe Yin Yang gevoel skep. Hierdie lied bewys dat die jong band van Boksburg hul stem gevind het end at hulle nie hier is om in enige iemand se voetspore te volg nie, maar dat hul eie rigting gaan inslaan – Al is dit effens ‘weird’.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *