Lekkerluistersnit wat jou eufories oor die liefde sal laat voel.

Die bekroonde country-sanger Daniel Wesley het sy nuutste enkelsnit, Higher, opgedra aan die Amerikaanse liedjieskrywer, James Breedwell.

“Ek het baie nou saam met hom aan dié snit gewerk. Ons het saam geskryf, herskryf en gepoets. Ek wou Higher eers later die jaar uitgereik het, maar James is einde verlede jaar oorlede. Daarom is die liedjie ook ’n simbool van ons vriendskap; sy menswees. Hy was ’n yster,” vertel Daniel.

Daniel het vir ’n paar jaar sy talent in die country-mekka van Amerika, Nashville, geslyp en dáár het sy musiekpaaie ook met die van James gekruis. James, wat vir onder andere die Amerikaanse Idols Jeffrey Li en Kechi Okwuchi liedjies geskryf het, het vir Daniel in Nashville sien optree en het behoorlik liries geraak oor sy stem.

Deur die jare het dié twee saam aan verskeie liedjies gewerk – liedjies wat ook op radiostasies se trefferparades regoor die wêreld geboer het.

Daniel is ’n country-rock sanger en met sy vorige enkelsnitte het hy bewys dat country ook in die moderne idioom gesing en geniet kan word.  “Ek skryf maar oor allerdaagse gebeure asook dinge wat ek glo gesê moet word. Higher se klank is deur country geïnspireer en met akoestiese klanke vermeng.”

Hoewel Higher beskryf kan word as ’n akoestiese country liefdesliedjie, maak die dromritme, wat amper ’n hipnotiese effek op die luisteraar het, dit uniek in die genre waarin die snit geplaas kan word.  “Die hipnotise dromritme kom regdeur die snit voor en ons het die klank verder ingekleur met die akoestiese,- elektriese,- en baskitare,” vertel Daniel.

Die idee vir die iedjie het ontstaan toe James, Daniel en die musiekvervaardiger, Darryl de Lange, een aand in Darryl se sitkamer gekuier het.  “Darryl en sy vrou het begin dans. Dit was asof hulle gesweef het, asof hulle vir mekaar vlerke gegee het. Ons het dadelik om die tafel gesit en begin skryf,’’ vertel Daniel.

Die eindproduk is ’n lekkerluistersnit wat jou eufories oor die liefde sal laat voel.

Volgens Daniel is dié snit dus ook ’n metafoor van hoe die liefde tussen twee mense jou op die regte oomblik kan laat vergeet van slegte dinge rondom jou; dit kan die lig helderder laat skyn; jou gewigloos laat voel. Jy wil net hoër saam met daardie persoon vlieg.”

Daniel was jare gelede lid van die Bloemfonteinse rockgroep K2 waar hy die kitaar gestreel het en ook soms as agtergrondsanger opgetree het, maar dit was eers in Nashville waar hy ’n diep liefde vir country musiek ontwikkel het.

Hoewel hy nou ook gereeld in Afrikaans sing – twee enkelsnitte het die afgelope twee jaar uit sy pen verskyn – het hy nie vinnig van die How Dee vergeet nie – en hy beoog om volgende jaar ’n vertoning of twee in Nashville te gaan doen.

Daniel woon steeds in die Rosetad (Bloemfontein), maar tree gereeld op verhoë in Pretoria op. “Ek sal moontlik later vajaar die groot trek na die Jakarandastad aandurf.”

“Ek is nie altyd ’n soet seuntjie nie,” lag hy. “Ek rook partykeer skelm (my ma weet nei daarvan nie) en ek eet pynappel op my pizza.”

Daniel se gevoelvolle stem is ’n welkome toevoeging tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy snitte is ook opreg en eerlik en is sterk liriekgedrewe.

Die snit is verwerk en vervaardig deur Darryl de Lange.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *