Die Centurion sangeres Carlien Coetzer is baie lief vir die Vrystaatse dorpie Vrede en daarom het sy ook haar jongste enkelsnit, Vrede in Vrede, aan die inwoners opgedra.
“Ek ervaar net rustigheid en liefde as ek by my broer en aanstaande skoonsuster op hulle plaas gaan kuier. Dit is ’n dorp waar almal mekaar ken vriende werklik soos familie raak,” vertel sy.
Carlien het verlede jaar haar grande entreé tot die Afrikaanse musiekbedryf gemaak met ’n hermengde weergawe van Tasché Burger se treffer Sal jy vir my wag. Sy het met dié snit ’n kans gewaag wat haar aan die hakke sou kon hap, maar dit is uitstekend deur die publiek en plaaslike radiostasies ontvang; trouens daar was net lof vir haar eiesoortige vertolking van die liedjie.
Nou het Carlien ook haar hand aan liriekskryf gewaag en die resultaat is ’n melodieuse country-liedjie wat nie net ’n sterk musikale inslag het nie, maar ook ’n storie vertel waar die reisiger saam met haar deur die dorp reis; die stof van die hoofstraat ruik, die gebrul van leeus hoor. “Die leeus brul nie net saans nie, maar sommer ook helder oordag.”
Vrede in vrede het ’n narratiewe storielyn wat die karakters op die dorp, die natuur se skoonheid en die wilde diere soos ouditiewe flitse voor die luisteraar afspeel.
Carlien sê sy het die snit in samewerking met Reinhard Herbst van die groep RNK geskryf. Dié groep is bekend vir hulle verhalende liedjies en die styl vind ook neerslag in Carlien se eerste penpoging.
Luidens die jongste sensus het Vrede net ’n bietjie meer as 18 000 inwoners en daarom is dit ook nie verbasend dat dié meeste mense op die dorp mekaar ken nie.
“Ek het nooit gedink dat ek my eerste liedjie sal skryf oor ’n klein dorpie in die Vrystaat en sy mense nie, maar ek deel ’n stukkie van my hart met dié snit,” sê Carlien.
Die mense in Vrede, vertel sy, groet mekaar altyd met dieselfde woorde: ‘liefde en vrede vir almal.’
“Ek het toe daaraan gedink om ’n liedjie met die titel Vrede in Vrede te skryf, maar eers gedog dat dit ’n bietjie snaaks sou klink. Ek het lekker daaroor gegiggel, maar dit het toe eintlik perfek uitgewerk.”
Carlien het aan die Hoërskool Centurion gematrikuleer, en het ’n onderwysgraad deur Unisa voltooi.
Sy beskryf haarself as iemand wie se lewe uit ’n simfonie van baie passies en klanke bestaan. Dit sluit die klaskamer, die verhoog en die sportveld in.
Sy is ook ’n stadsmeisie wat nooit gedink het sy sou die plattelandse “kerse” en dowwe straatligte aanloklik vind nie, maar sedert sy vir die eerste keer op haar broer se aanstaande skoonouers se plaas gaan kuier het, mik-mik haar hart terug na Vrede toe. “As ek die geleentheid kry sal ek vandag my lappe en sakke pak en na Vrede toe verhuis.”
Die enkelsnit word gesamentlik met ’n musiekvideo op YouTube uitgereik.
Zander de Beer van Wintertrail Pictures het die musiekvideo vervaardig. “Die karakters in die video is almal inwoners van Vrede, wat vir my oor die jare soos familie geword het. Ons het nie regtig veel aan die musiekvideo beplan nie; ons wou dit so natuurlik as moontlik hou. Die mense het regtig net met hul koelerbokse, visstokke en hout opgedaag en saamgekuier.”
Carlien hoop dat luisteraars (en kykers) dieselfde gevoel van vrede as wat sy op die dorpie kry, sal ervaar.
Vrede in Vrede is ’n snit wat jou saam deur een van die land se mooiste Vrystaatse dorpies gaan laat reis. Dit is ’n opregte snit wat sonder enige pretensies aan die luisteraar oorgedra word.
Riaan Swanepoel van RS Studio het die snit verwerk en opgeneem.