Skaars twee maande nadat die bekroonde country-sanger Daniel Wesley die stromingsdienste en radiospeellyste met sy enkelsnit, Like I love you, getref het, is hy terug op die lug met nog ’n snit wat jou terug laat verlang na “onvergeetlike tye.”
Dalk was dit ’n oomblik om die kampvuur, ’n dag in Desember toe jy saam met vriende ’n verjaarsdag gevier het. Oomblikke wat jy in jou geheue vasgevang het en jy verlang terug daar na
Net soos Daniel se vorige enkelsnitte is Days like these ook sterk liriekgedrewe. Dit volg die narratief van ’n seun se puberteitsjare, n mens se verhouding met familie,kampvuur kuiers en daardie eerste soen wat “vlinders in die maag gegee het.”
Die snit, sê Daniel, neem jou terug na oomblikke waar jy gewens het dat die tyd kon stil staan. “Om dáárdie oomblikke weer en weer te beleef. Wat jou terugneem huis toe…”
Daniel weet wat dit beteken om terug te verlang huis toe; hy het ook wortels geanker in Nashville, Tennessee, wat ook bekendstaan as die hartland van country-musiek. Dit is, dáár in die vreemde, tussen country-stewels en twang-aksente, waar die lirieke ook in sy kop ontwaak het. Waar verlange na Bloemfontein se rose, rugby en ons sonskyn hom ook gedwing het om dieper na binne te kyk.
Musiekkenners het sy musiek al as kontemporêre country binne die Afrika-idioom beskryf.
Met Days like these bevind hy hom dalk in die hartland van Amerika (hy verwys iewers in die snit na dollars), maar terselfdertyd vind die lirieke ook diep neerslag in dinge wat so tradisioneel Suid-Afrikaans soos perskekonfyt en kerkkermis kerrie-en-rys is.
Hy vertel dat hy oor alledaagse dinge skryf. “Ek skryf oor gebeure asook dinge wat ook vir my belangrik is. In die liedjie onthou ek die Sondagmiddag-etes by my ouers, kuiers saam met my familie en die geselligheid van “hartsmense” wat saam met jou om die vuur kuier.”
Daniel is ’n meesterliriekskrywer en met die snit het hy teruggeval op sy wenresep van vorige snitte soos Like I love you wat steun op kontemporêre country-klanke wat hy kombineer met ’n bietjie Suid-Afrikaanse rock.
Daniel was jare gelede lid van die Bloemfonteinse rockgroep K2 waar hy die kitaar gestreel het en ook soms as agtergrondsanger opgetree het. Nadat die groep ontbind het, het Daniel ’n reusesprong gewaag en in Nashville sy talente gaan slyp. Dit was ook nie ’n maklike pad nie, want die country-bedryf kan jou maar ook stukkend kou en uitspoeg.
Tog het hy vasgebyt en bekende name in die internasionale musiekbedryf het hom raak-geluister en gehelp om sy talent te ontgin.
Deur die jare het hy saam aan verskeie liedjies gewerk – liedjies wat ook op radiostasies se trefferparades wêreldwyd geboer het. Maar hy het ook diep in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers geklim.
Days like these is ’n nostalgiese “voel goed” snit wat jou twee keer sal laat dink oor die gesegde “om in die oomblik te leef.”
Dié snit laat verlang en onthou. Dit laat rou en berou. Maar dit bring ook hoop dat daar altyd oomblikke soos dit sal wees.
Hoewel hy nou ook gereeld in Afrikaans sing – twee enkelsnitte het die afgelope twee jaar uit sy pen verskyn – het hy nog nie vergeet om met “How Dee?” te groet nie – en hy beoog om volgende jaar ’n vertoning of twee in Nashville te doen.
Daniel se gevoelvolle stem maak van sy liedjies hartsmusiek. Boonop is sy lirieke ook rou, emosioneel en sterk liriekgedrewe.
Die snit is verwerk en vervaardig deur BF Nel en die muskiek video deur Zita Filmz.