Die Kaapse sangeres Anel van der Merwe, wat nou onder die verhoognaam Rocking Eve sing, was op pad om een van Suid-Afrika se blinkste musieksterre te word – die land was aan haar voete en die kollig op haar blonde hare. Maar binne minute het haar lewe onherroeplik verander nadat ’n hond haar in haar gesig gebyt het.
Dit was ’n lang pad wat sy moes stap om ten einde te herstel en weer ’n pop-rockprinses te word. Maar opgee is min, en nou sewe jaar na die hap, wat haar vir weke in ’n hospitaalbed vasgekluister het, is sy terug op die lug met ’n witwarm- winterenkelsnit, Ek onthou nog, wat handel oor die liefde, die rou, maar ook die plesier van onthou.
Die snit is vanaf haar debutalbum, ’n Wens vir die maan, wat pas vrygestel is. Die album bestaan uit tien snitte – maar dit is veral Ek onthou nog wat luisteraars aan die dans gaan kry. Dit is popplesier met ritmiese borrelklanke wat sterk herinner uit die goeie era van Afrikaanse popmusiek – dáárdie dae toe pop nog sterk musiek- en liriekgedrewe was. Anel het ook die snit neergepen.
Anel vertel dat musiek – al vandat sy vier jaar oud was – Mozart se spreekwoordelike towerfluit in haar lewe was. Sy het binne maande die klavier volkome bemeester en haar familie het haar as ’n virtuoos beskou.
Tydens haar skoolloopbaan was sy besiger met sport as musiekdinge, maar sonder dat sy dit toe besef het, het haar inspirasie binne die bladsye van haar skoolhandboeke gewag. “Die Suid-Afrikaanse ikoon Nataniël het ook aan dié hoërskool gematrikuleer en sy ou handboeke het gereeld op my lessenaar beland,’’ lag sy. “In daardie stadium was musiek maar eintlik net ’n stokperdjie en ek het dit nie as loopbaan oorweeg nie. Ek kom uit ’n musikale huis – my ma was in die gospelgroep Bianca and friends en my pa was JJ Die Jodelkoning. Ek het geweet hoeveel opofferings hul vir hul onderskeie loopbane moes maak.’’
Die muse het egter nooit haar rug op Anel gedraai nie, want sy het aan verskeie sangkompetisies deelgeneem en omtrent almal gewen. Na matriek het sy besluit om tog maar ’n sangeres te word, en sou haar eerste groot optrede by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gedoen het, maar die noodlot het ingegryp. Die piep-piep van die hartmonitormasjien en die ritmiese geklop van die bloedrukmasjien het haar note en klanke geword.
“Dit het ’n paar maande geneem voordat ek volkome herstel het. Ek dink die voorval het ’n geweldige sielkundige invloed op my lewe gehad. Ek het wel ’n paar optredes gedoen, maar sewe jaar moes verbygaan voordat die musiek weer deur my are gebruis het. Die sanger en musikant Wouter van de Venter het my gehelp om my liedjies af te stof en tydens die opname en skryfproses het ek ook weer heel geword.’’
Hoewel dit haar lang gevat het, en sy met ’n ompad weer op die verhoog beland het. En so saam met die ompad is haar nuwe identiteit as mens en sangeres ook ontwikkel.
“Dit gaan nie oor hoe suksesvol jy is nie. As jy jouself leer ken, kan jy jou emosies beheer. En deur jou emosies te kan beheer leer jy om saam te leef met omstandighede. En as jy met dit kan saam lewe op jou lewenspad is jy suksesvol en kan jy uitsien na die volgende avonture waarop daardie paaie jou neem,’’ sê Anel.
Met Ek onthou nog bereik sy ook haar nuwe musikale hoogtes. Dit is ’n oomblik-liedjie, ’n eerste-soen-liedjie, ’n onthou-liedjie.