Die klassieke sanger David Divaad het met sy nuutste enkelsnit, PHD, afgewyk van sy klassieke treffers en ’n pop-skop-skiet-en-wonder liedjie uitgereik wat dié jagseisoen met klinkende simbale en ritmiese kitare inlui.
David, ’n boer van Limpopo, het sowat twee jaar gelede tot die musiekbedryf toegetree met klassieke liedjies in Engels, Afrikaans en Italiaans waaronder Onthou Hom, My Land en Fall on Me op al sy platforms beskikbaar is.
Die publiek het hom met ope arms in die musiekbedryf verwelkom en hy het vinnig opslae gemaak as die nuwe generasie se Gé Korsten.
David glo dat ’n kunstenaar en sanger altyd buite hulle werklikheid en ruimte moet beweeg en daarom het hy dié sterk liriekgedrewe snit geskryf wat die storie van ’n jagekskursie vertel; van vroegoggend opstaan en “van brannas en bier wat vir die manne gestuur is om te help wag vir die opgewondenheid van more se jag.”
Die titel kan ’n bietjie misleidend wees, want dié liedjie handel nie oor ’n professor met ’n Philosphae Doctor nie, maar eerder oor professionele jagters. In Engels word daar na dié groepering verwysing as PH’s.
David het tussen wild groot geword en die begin van die hoof jagseisoen – vanaf Mei tot Augustus – is nog altyd vir hom die opwindendste tydperk van die jaar.
Hy vertel: “My pa teel met Koedoe-bulle en in 2015 het een van sy bulle ’n rekordprys op ’n wildsveiling gekry. Ons het dus besluit dat jagters nie die bulle, wat oorkaartjies aan het, mag skiet nie. Laasgenoemde is ’n eksklusiewe spesie en daar word spesifiek met hulle geteel vir hulle genetika en trofeehorings.”
“Maar die jagters, lag David, skiet ook soms die verkeerde bok. En soos die noodlot dit wou hê, het een van die jagters op ons plaas, per ongeluk ’n trofeebok geskiet. Toe moes hy maar vir die bok opdok…. en natuurlik was die jagter se vroulief nie té gelukkig daaroor nie.”
David het die gebeure as agtergrond vir die liedjie gebruik. Hy wil jagters hiermee oplei en hulle op ’n vermaaklike manier inlig oor wat hulle tydens ’n jagekskursie mag doen en nie mag doen nie.
“Dit was vir my belangrik dat dat die liedjie ’n storie vertel waarmee jagters hulself mee kan vereenselwig; die gebeure tydens ’n jagekskursie, maar ook die reëls daaraan verbonde soos dat ’n bok wat “ge-tag” is nie geskiet mag word nie (tensy duidelik ooreengekom is), soook moet veiligheid en etiesejag ten alle tye toegepas word. Dit is dus ook belangrik dat ’n professionele jagter (PH) altyd die manne op so ’n jaguitstappie vergesel.”
Die snit is ’n lekker-luister liedjie wat die chronologiese verloop van ’n jagstorie uitbeeld. Ja, die jagter het die grootste bok geskiet (oordrywing, natuurlik) en ja, die manne geniet eers voor die groot jagtog ’n brannas-en-coke in die kroeg, maar dié snit word ook op ’n manier ’n metafoor vir wildbewaring, veiligheid, etiesejag en ook die belangrike rol wat die PH tydens ’n jagtog speel.
David beskryf dit so: “ Altyd begin die manne die aand voor die tyd kuier, en die brannas en bier loop, maar die PH moet toesig oor hulle hou en sorg dat hulle nie té veel onder die glase boer nie, want dit is gevaarlik om in die veld ’n babelas te hê.
“Die volgende oggend is dit tyd vir jag en die bok moet gesoek word, bokkoors of nie, die skoot word getrek en die bul val. Nou is dit tyd om hom te gaan haal, te laai en slagpale toe te vat.”
David vertel, tong-in-die-kies, dat die man, wat per ongeluk die gemerkte bok geskiet het, moes hoes-en-betaal vir die bok, maar dat sy begroting dit nie toegelaat het nie. “Hy was in groot moeilikheid, want toe hy vir sy vrou van die foutjie vertel het ’n vrieskas vol vleis nie eers haar humeur laat bedaar nie.”
Suid-Afrikaners is baie lief vir jag en die liedjie is perfek binne die Suid-Afrikaanse konteks geplaas.
PHD is musikaal goed versorg en dit sal beslis om kampvure, voor die rooster, kuiers en in die jagveld (natuurlik net as baie sagte agtergrondmusiek) geluister word.